Head verdien ʼn klop op die skouer

Travis Head is as die speler van die wedstryd in die Wêreldbeker-eindstryd aangewys. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

In die twee uitspeelwedstryde van die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië het Travis Head van die beste krieket van sy loopbaan opgedis.

In die halfeindstryd teen Suid-Afrika het sy twee paaltjies en blitsbeurt vir hom die speler van die wedstryd-toekenning besorg, terwyl ʼn uitstekende vangskoot en ʼn bobaas-honderdtal in die eindstryd teen Indië nie net dieselfde toekenning vir hom losgeslaan het nie, maar terstond ook die Wêreldbeker-wennersmedalje.

Head se beurt van 137 lopies is ongetwyfeld een van die beste wilgerlatvertonings nóg in die eindstryd van ʼn Wêreldbeker-skouspel en saam met Marnus Labuschagne (58 lopies) het hy die Aussie-wa deur ʼn moeilike drif getrek.

Dit is nooit maklik om teen Indië voor sy entoesiastiese tuisskare te speel nie, maar die geskiedboeke sal wys dat Australië sy sesde Wêreldbeker-titel op ʼn drafstap ingeoes het.

“Ek het nooit in der ewigheid gedink dat so iets sou gebeur nie. Dit was ʼn ongelooflike dag en ek is baie dankbaar om deel van die aksie te kon wees,” het die 29-jarige speler gesê.

Dit was egter so hittete of Head het die ganse krieket-skouspel misgeloop: ʼn Handbesering wat hy in aanloop tot die toernooi in Suid-Afrika opgedoen het, het gedreig om sy Wêreldbeker-droom te kelder.

“Ek is baie gelukkig dat alles goed verloop het en dat ek my pad weer terug na die span kon vind. ʼn Wêreldbeker-wennersmedalje is veel beter as om op die rusbank by die huis met ʼn besering te sit!”

Hy was ook vol lof vir die Suid-Afrikaans gebore Labuschagne.

“Ek was aanvanklik op my senuwees, maar Marnus was briljant. Dit is pret om saam met hom te kolf en ons was deel van ʼn ongelooflike vennootskap.”

Nodeloos om te sê is hy ook in sy skik met sy vangskoot om van Rohit Sharma in Indië se kolfbeurt ontslae te raak.

Sharma het soos ʼn wegholveldbrand gekolf, maar hy het in die tiende balbeurt die bal hoog in die lug geslaan waarna Head gehardloop, geduik en raakgevang het.

“Ek oefen hard aan my veldwerk, maar jy kon my met ʼn veertjie omtik toe ek daardie vangskoot benut het. Dit is ʼn hoogtepunt waarna ek later in my lewe kan terugkyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sobymykoolkop ·

En almal in die Ausie en Indië span is daar op MERIETE

George ·

Ag Sobymykoolkop. In daai geval, hoort Bavuma daar, en in daai geval moes Aiden al 4 1/2 jaar terug gedrop gewees het. Waar gee n span n spesialis kolwer 6 jaar om sy eerste 100 te kry, n spesialis kolwer met n avg van 24 vir 5 jaar. Avg van 32 nou… so se jy my wie gedrop moet word.

George ·

Bring die stats, dan wys jy my wie nie daar is op mariete nie – hint – dis nie ons kaptein nie-

George ·

Kom ons kyk.
AVG : 42 / 45 / 41 / 55 / 36 en 29
Vat n raai wie sin is wie sin…

koos10 ·

Head het brijant gekolf. Ek is nie ‘n Aussie ondersteuner nie, maar sy span is besig om seer te kry toe hy instap, teen Indie in Indie in die eindstryd. Mensig dit vat moet, durf en bitter goeie spel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.