Heinrich in klas van sy eie

Heinrich Klaasen vier sy eerste honderdtal. (Foto: Twitter)

Toe Quinton de Kock gister sy paaltjie met sy telling op 15 verloor het, het die meeste Suid-Afrikaanse krieketondersteuners seker die kanaal verander. Want as die Suid-Afrikaanse kaptein deesdae sy paaltjie verloor, verlep die res van die Protea-kolwers baie vinnig.

Boonop het die kolflys maar papierdun sonder die dienste van Faf du Plessis en Rassie van der Dussen gelyk. Tog het Kyle Verreynne en Heinrich Klaasen ander planne gehad.

Die 22-jarige Verreynne het 48 lopies in sy debuutwedstryd geslaan en met ’n volwassenheid gekolf wat die Suid-Afrikaners in vorige wedstryde broodnodig gehad het.

Maar Klaasen was die groot held. Sy onoorwonne 123 lopies het die grondslag vir die Proteas se spogsege van 74 lopies in die Paarl gelê, terwyl sy vennootskappe met Verreynne (78) en David Miller (149) die Suid-Afrikaners na ’n goeie telling van 291/7 in hul toegelate 50 boulbeurte gelanseer het.

Die 28-jarige Titans-speler het sewe viere en drie sesse in sy spogbeurt geslaan en Aussie-boulers soos Josh Hazlewood, Mitchell Marsh en D’Arcy Short het almal meer as ses lopies per boulbeurt afgestaan. So tussendeur die grenshoue het hy en Miller ook uitstekend tussen die paaltjies gehardloop om die veldwerkers onder druk te plaas.

Vir Australië het Steve Smith (76) en Marnus Labuschagne (41) goed gekolf, maar Lungi Ngidi (3/30) en Anrich Nortjé (2/39) het ’n stokkie voor enige Australiese wenplanne gesteek.

En ná die veldwerk-treurmare van die eerste T20-wedstryd het Verreynne en Miller ook met hul duikslae beïndruk.

Onder Mark Boucher het die Proteas al ’n paar keer die eerste wedstryd van ’n reeks gewen, net om in die daaropvolgende kragmetings op ’n skouspelagtige wyse in duie te stort. Dit is nou tyd dat hulle ’n paar agtereenvolgende wedstryde ook wen.

  • Die tweede eendagwedstryd word Woensdag in Bloemfontein beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Vertel dit vir Lesufi dat hy daarna sal streef om elke leerling in ‘n klas van sy eie te sit.