Heinrich se honderdtal tevergeefs ná RCB-aanslag

Virat Kohli en Faf du Plessis het ’n openingsvennootskap van 172 lopies geniet. (Foto: Twitter/IPL)

Die Royal Challengers Bangalore (RCB) het ʼn tree in die regte rigting gegee om vir die uitkloprondes van die Indiese Premierliga te kwalifiseer toe die span met die Sunrisers Hyderabad afgereken het.

Faf du Plessis se troepe het die kragmeting met agt paaltjies in Hyderabad beklink.

Die voormalige Protea-kaptein het ʼn openingsvennootskap van 172 lopies met Virat Kohli geniet en die twee kolwers het korte mette met die wenteiken van 187 lopies gemaak.

Du Plessis het nou al 702 lopies in die toernooi teen ʼn gemiddeld van 58,50 gemoker. Om dinge vinnig in perspektief te stel: Nie een van die ander kolwers kon al die 600 lopiekerf verbysteek nie; die Gujarat Titans se Shubman Gill is die naasbeste kolwer in die reeks en hy het 576 lopies agter sy naam.

Dan het Kohli ook vlamgevat nadat sy stadiger kolfwerk al onder kritiek deurgeloop het en hy het 100 lopies van 63 balle geslaan.

Heinrich Klaasen het sy eerste IPL-honderdtal met ’n groot ses gevier. (Foto: Twitter/IPL)

Maar vroeër tydens die Sunrisers-kolfbeurt het Klaasen ongetwyfeld sy klas gewys.

Die Protea-paaltjiewagter het aggressief gekolf, met 14 grenshoue laat waai en sy eerste IPL-honderdtal aangeteken.

Hy is uiteindelik vir 104 lopies van 51 balle uitgehaal en sy vertonings is beslis ʼn ligpunt vir die sukkelende Sunrisers.

Die 31-jarige speler het nou al 430 lopies in die toernooi teen ʼn warrelwindtreftempo van 179 geslaan.

  • Opsomming van telkaart

Sunrisers Hyderdabad 186/5 in 20 boulbeurte: Heinrich Klaasen 104, Harry Brook 27 en Michael Bracewell 2/13.

Royal Challengers Bangalore 187/2 in 19,2 boulbeurte: Virat Kohli 100, Faf du Plessis 71 en Thangarasu Natarajan 1/34

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.