Held Quinton de Kock dink reeds aan die Wanderers

Quinton de Kock (Foto: CricketCountry.com)

Quinton de Kock (Foto: CricketCountry.com)

Die held van Vrydag se maklike oorwinning van die Proteas oor Australië, Quinton de Kock, het die aggressiewe 178 lopies in net 113 balle reeds in die agterkop gebêre. Dit gaan nou oor Sondag se wedstryd op die Wanderers.

Dit was baie lekker, erken De Kock, veral omdat hy Vrydag met ʼn vryheid gespeel het wat jy nie dikwels op die vlak ervaar nie. Dit was ʼn kolfblad wat hom gepas het en hy kon sy natuurlike spel speel. Hy het egter na die beurt te kenne gegee hy hou meer van die kolfbeurte waar hy harder moes werk.

Suid-Afrika het Vrydag sy eerste van vyf eendagwedstryde oortuigend met ses paaltjies gewen met nog 82 balle oor. Sondag mag sake anders wees. In die geheel egter was die Proteas se boulwerk effens teleurstellend en is die Aussies meer lopies gegee waarvoor hulle nie te hard moes werk nie.

Kagiso Rabada was meer wisselvallig as wat ʼn mens van hom verwag, en Wayne Parnell was soos altyd te los en sonder plan en beheer met sy boulwerk.

Daar is ook ernstige kommer oor Dale Steyn. Hy het die veld Vrydag twee keer verlaat terwyl hy sy skouer vasgehou het. Dit is ʼn ou besering en hy sal moontlik moet rus om die skouer herstelkans te gee met die belangrike toetse in Australië wat aanstaande maand voorlê.

♦  De Kock was Vrydag verwoestend op ʼn kolfblad wat hy toegee makliker in die aand as in die middag gespeel het. Sy 178 is nou naas Gary Kirsten se 188 nie-uit-nie die hoogste eendagtelling deur ʼn Suid-Afrikaanse kolwer. Dit het 16 viere en 11 sesse ingesluit – dus 130 lopies met grenshoue.

De Kock het saam met Rilee Rossouw (63 vanaf 45 balle) ʼn aanvangsvennootskap van 145 daargestel en toe 123 lopies om die tweede paaltjie saam met sy kaptein Faf du Plessis gebou. Du Plessis se bydrae was net 26 lopies.

♦  Saam met De Kock was die 20-jarige Andile Phehlukwayo se uitstekende boulwerk hoofsaaklik vir die klinkende oorwinning verantwoordelik.

Phehlukwayo het in sy eerste boulbeurt 16 lopies afgestaan maar het vinnig reggeruk en in sy tweede boulbeurt vir Aaron Finch en Steven Smith terug pawiljoen toe gestuur. Dit was vir sy span broodnodige paaltjies.

Aan die einde van die 13de boulbeurt was Australië se telling toe 91/3 na ʼn haastige en stewige begin met Finch en Warner wat 64 in net 9.3 boulbeurte aangeteken het.

Phehlukwayo het ʼn baie goeie tweede wedstryd op die vlak gehad en in sy tien beurte 4/44 geneem.

Opgesomde telkaart –

Australië 294/9 (50 beurte): Kolwers: George Bailey 74, John Hastings 51, David Warner 40, Aaron Finch 33.  Boulers: Andile  Phehlukwayo 4/44, Dale Steyn 2/65.
Suid-Afrika 295/4 (36.2 beurte): Kolwers: Quinton de Kock 178 (113 balle), Rilee Rossouw 63 (45 balle). Boulers: S Boland 3/67)

Suid-Afrika wen met ses paaltjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Ma se kind!!!!!!
Van dag een af wat Quinton op die veld gestap het, jonk, sweet, kindergesiggie, ‘n seuntjie na elke ma in die land se hart….. Het jy geweet….
HIER KOM ‘n DING.
Quinny jy maak die ma se hart bars! Jy kan van sterkte na sterkte gaan. ONTHOU NET – NIE ELKE DAG – GAAN ‘n FANTASTIESE KRIEKET DAG WEES NIE.
Dit maak nie saak nie, ou seun ons staan by jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.