Hier is ’n (Janne)man wat ’n bal kan slaan

Janneman Malan is tans ’n baie gevaarlike speler. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Janneman Malan is gister welverdiend as die speler van die wedstryd teen Ierland aangewys nadat hy 177 onoorwonne lopies van 169 aflewerings gemoker het.

Die 25-jarige kolwer van die Cobras dink duidelik dat internasionale eendagkrieket nie veel van ’n uitdaging is nie. Ná ses kolfbeurte het hy reeds 483 lopies teen ’n ongelooflike gemiddeld van 120,75 geslaan.

Nie te sleg vir iemand wat in sy openingswedstryd vir ’n nulletjie deur Australië se Mitchell Starc uitgeknikker is nie.

Malan se openingsvennootskap van 225 lopies saam met Quinton de Kock (120 van 91 aflewerings) het die grondslag vir die Proteas se reusetelling van 346/4 én die uiteindelike oorwinning van 70 lopies gelê.

En wanneer jou kolf die praatwerk doen, spat die rekords gewoonlik.

In die geskiedenis van die spel het Malan verreweg die meeste lopies in sy eerste ses eendagkrieketbeurte geslaan. Net Pakistan se Inzamam-ul-Haq (406) kan enigsins by hom kers vashou.

Quinton de Kock en Janneman Malan. Foto: Twitter.

Dan het De Kock ook ’n spesiale mylpaal bereik toe hy die sewende paaltjiewagter geword het om 10 000 lopies in alle formate van die spel aan te teken.

Die 28-jarige paaltjiewagter het nou 10 092 lopies in toets-, eendag- en T20-krieketwedstryde teen ’n gemiddeld van 41,70 geslaan.

Tog kon MS Dhoni, Adam Gilchrist óf Kumar Sangakkara nie met hierdie prestasie vóór hul 30ste verjaardag spog nie.

Malan en De Kock het nie een keer in die afgelope T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande saam gekolf nie. Maar met die T20-Wêreldbeker om die draai is dit belangrik dat hulle nou aan hul vennootskap skaaf.

Reeza Hendricks is ’n baie goeie kolwer, maar Malan sorg tans vir vuurwarm vertonings en hy verdien ’n plek in die span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack ·

Iemand kan nie somme maak nie. $83 lopies in ses kolfbeurte geen ‘n gemiddelde van 80.5 lopies per kolfbeurt. Andersom as hy ‘n gemiddeld van 120.75 lopies per kolfbeurt in ses kolfbeurte geslaan het moes hy altesaam 724.5 lopies aangeteken het.

piet ·

Hy was ‘n paar keer nie uit nie, in daai geval word die lopies bygetel by sy totaal maar die kolfbeurte wat hy nie uit was nie word nie gereken as voltooid nie (anders as wat die geval sou wees as hy uit was). So byvoorbeeld: As hy 6 keer gekolf het maar hy was 2-keer nie uit nie, word al die lopies wat hy gemaak het bymekaargetel maar net gedeel deur 4 (die kolfbeurte wat hy uit was).

Barkie ·

Die nie uit beurte word nie getel as beurte nie. So dis die totale aantal lopies deel deur 4

piet ·

Ek sien die Windies het die Australiers 4-1 kafgedraf terwyl ons hulle geklop het. Ons kan nie te swak wees nie.

Pieter9 ·

Ek ondersteun geen sportspan wat ‘n politieke standpunt probeer maak… Nie meer’ n krieket ondersteuner, eintlik baie bervrydend want hul suksesse of nie, is nie meer belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.