Hoe vaar Proteas op wêreldranglys?

Dean Elgar. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Krieket is een van daardie unieke spansportsoorte waar ’n individuele vertoning ook ’n groot rol in die elftal se uiteindelike suksesstorie kan vertolk.

Ná ’n hele paar maer Proteajare is daar onlangs weer ’n opwaartse kurwe onder Mark Boucher en Dean Elgar se toesig te bespeur.

Die toetskrieketspan het eerstens met die Wes-Indiese Eilande weg van die huis afgereken, waarna hulle met die hoog aangeskrewe Indiese span onder Virat Kohli in Suid-Afrika klaargespeel het.

Donderdag begin die reeks teen Nieu-Seeland – die naasbeste toetskrieketspan ter wêreld. En volgens Brendon McCullum is die Suid-Afrikaners die gunsteling om met die louere weg te stap.

Volgens die oudpaaltjiewagter is die Proteas se herlewing grotendeels te danke aan Elgar se positiewe ingesteldheid as kaptein.

Die 34-jarige openingskolwer is berug vir sy veggees en rateltaai houding voor die paaltjies, eienskappe wat sy spanmaats ook tot hoër hoogtes aanspoor.

Kagiso Rabada. (AP Photo/Halden Krog)

Die onbesonge Elgar se vegtersbeurte het ’n leeueaandeel in die Proteas se suksesvolle lopiejaagtogte teen Indië gehad en dit is so te sê vanselfsprekend dat hy Suid-Afrika se voorste kolwer op die wêreldranglys is.

Maar ’n mens moet ’n bietjie soek voordat jy die volgende Protea-kolwer op die lys kry: Temba Bavuma in die 28ste plek, gevolg deur Keegan Petersen, Aiden Markram en kie.

Op die boulfront lyk dinge darem effens beter met Kagiso Rabada in die derde plek, terwyl Lungi Ngidi en Duanne Olivier onder die voorste 30 boulers ter wêreld tel.

  • Toetskrieket-ranglys:

Kolwers: Dean Elgar (12de), Temba Bavuma (28ste), Keegan Petersen (33ste), Aiden Markram (35ste) en Rassie van der Dussen (43ste).

Boulers: Kagiso Rabada (derde), Lungi Ngidi (21ste), Duanne Olivier (26ste), Keshav Maharaj (33ste), Anrich Nortjé (37ste) en Marco Jansen (46ste).

  • Suid-Afrika se toppresteerders in die afgelope jaar:

Kolwers: Dean Elgar (322 lopies teen ’n gemiddeld van 40,25), Keegan Petersen (320 lopies teen ’n gemiddeld van 35,55) en Quinton de Kock (292 lopies teen ’n gemiddeld van 73).

Boulers: Kagiso Rabada (31 paaltjies teen ’n gemiddeld van 16,35), Lungi Ngidi (23 paaltjies teen ’n gemiddeld van 14,39) en Marco Jansen (19 paaltjies teen ’n gemiddeld van 16,47).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Die wie????

George

Ons vaar mooi LOL