Holding vies omdat Aussies, Engelse nie die knie buig

Michael Holding is een van die beste snelboulers ooit. Foto: Twitter.

In sy speeldae was Michael Holding een van die mees gevreesde snelboulers in wêreldkrieket. Saam met Joel Garner, Colin Croft en Andy Roberts het hy gesorg dat kolwers moes bontstaan wanneer hulle teen die Wes-Indiese Eilande gespeel het.

Die 66-jarige Holding is deesdae ’n kommentator wie se mening en krieketkennis in baie lande gerespekteer word. Hy is egter ongelukkig oor die feit dat Engeland en Australië se krieketspanne nie die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging tydens die afgelope T20-reeks gebuig het nie.

“Reg oor die wêreld was dit nie meer ’n kwessie van swart teen wit nie, maar eerder ’n geleentheid vir die mensdom om saam te kom en te besef dat almal gelyk behandel moet word,” het die Wes-Indiese legende gesê.

Die Wes-Indiese spelers het die knie gebuig. Foto: ANA.

Engeland het tydens sy toetsreeks teen die Windies die knie gebuig, maar het in die daaropvolgende reekse teen Pakistan en Australië staande gebly.

Volgens Holding het die Engelse krieketraad met ’n flou verskoning vorendag gekom oor waarom hulle nie die knie gebuig het nie, terwyl hy niks van die Pakistani’s gehoor het nie.

Hy was ook nie gelukkig met wat Australië se kaptein, Aaron Finch, te sê gehad het nie.

“Ons glo dat opvoeding rakende die kwessie belangriker is as protes. Ek het vooraf met Eoin [Morgan, Engeland-kaptein] gepraat en ons wou nie spesifieke gebare soos voorheen doen nie,” het Finch op die vooraand van die onlangse T20-reeks gesê.

Finch het verder gesê dat hy trots is om ’n sportsoort te beoefen wat oor die wêreld heen deur enigiemand gespeel kan word; ongeag van ’n persoon se ras, geloof of nasionaliteit.

Australië se Aaron Finch. (AP Photo/Rob Griffith, File)

Die Engelse krieketraad het in ’n verklaring op Holding se aantygings gereageer en gesê dat hulle respek vir sy sienswyse het.

“Engeland se spelers bly daartoe verbind om hul invloed te gebruik om inklusiwiteit en diversiteit ten gunste van die spel te bevorder,” lui die verklaring.

Australië en Engeland speel vandag in die eerste eendagwedstryd in Manchester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhard ·

Die knie word net voor ons Hemelse Vader gebuig…….BLM is nie god nie…….dit raak nou belaglik!!!

MakersMark ·

Gaan terug na WI toe, gebruik bietjie van die krui, buig jou knie as jy wil, en chill. Jou speeldae is lankal verby.

Arnold ·

Black lives matter maar so ook alle ander lewens. Waarvoor die knie buig vir mense wat soos dit wil voorkom ‘n minderwaardigheidskompleks het. Almal is gelyk voor God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.