Honderdtal, puik boulwerk en beserings kenmerk pienkbaltoets

Aiden Markram haak op pad na sy honderdtal. (Foto: Twitter@ESPNCricinfo)

Die Proteas het ná Dinsdag se eerste dag/aand van die heel eerste pienkbaltoets in Suid-Afrika heelwat om tevrede en ook bekommerd oor te voel.

Hulle kolfwerk was nie so oortuigend en vernietigend as wat verwag is nie, maar die boulers, met Morné Morkel (3/20) en Vernon Philander (1/5) aan die spits, was egter kookwater en het Zimbabwe op St. Georges in Port Elizabeth laat steier.

Die totaal van 309/9 verklaar in Suid-Afrika se eerste vierdaagse dag-aand toets is nie waffers na die kolwers se vroeë belofte nie. Hulle het hul laaste ses paaltjies vir net 58 lopies verloor en die laaste vier vir net 11 lopies.

Teen uitskeityd na die eerste dag/nag se spel het Zimbabwe na net 16 boulbeurte op 30/4 gewankel – ʼn agterstand van 279 lopies.

♦  Die skemer het soos verwag is, met die ligte aan en ʼn bietjie dou op die kolfblad, die boulers laat baljaar op ʼn blad wat met die aanvang heelwat gras op gehad het maar aan die stadige kant was. Daar het nege paaltjies in 23.1 boulbeurte laat kantel.

Ná Suid-Afrika se kolfineenstorting het Morkel met die eerste bal van Zimbabwe se kolfbeurt toegeslaan toe hy Hamilton Masakadza beenvoor betrap het. Nog drie paaltjies van die buurland het geval.

♦  Zimbabwe se boulwerk was bestendig, maar met net hier en daar ʼn bal wat snaaks gereageer en die kolwers laat skarrel het; die veldwerk was goed; en vier van die Proteas se voorste kolwers het uit die eerste dag darem goeie kolfoefening geput.

♦  Aiden Markram het sy tweede honderdtal in vier beurte vir die Proteas geslaan voordat hy op 125 (204 balle, 14 viere, twee sesse) agter die paaltjies gevang is. Hy was duidelik op 70 uit, maar Zimbabwe kon toe nie teen die nie uit nie-beslissing appelleer nie omdat hulle twee verwysing reeds opgebruik was.

Dean Elgar het gewerk vir sy 31 lopies, Hashim Amla het net vyf tot die totaal bygedra en op 77/2 was die Proteas se totaal nie veel meer as aanvaarbaar nie.

AB de Villiers, wat as kaptein in die toets waarneem nadat Du Plessis nie oorweeg is nie, het die lopietempo ʼn gesonde stoot gegee met sy 53 lopies in 65 balle ( vyf viere, een ses) en het saam met Markram 96 lopies in 134 balle aangeteken.

De Villiers was op sy gemak, en was nooit in die moeilikheid nie behalwe teen twee of drie bybreekballe van die Zimbabwiese kaptein Graeme Cremer.

Nadat De Villiers op 173/3 uit is, het Temba Bavuma saam met Markram die telling tot 251/4 geneem voordat die klein kolwertjie, soos so dikwels in die verlede heeltemal op sy gemak en taamlik indrukwekkend, weer na ʼn goeie begin op 44 uitgehaal is.

Op 298 het die sesde paaltjie geval, en toe het nog drie manne teruggestap teen 309/9.

Cremer (2/66), Kyle Jarvis (3/57) en Chris Mpofu (3/58) het saam met die uithardloop van Keshav Maharaj se uithardloop al die paaltjies geneem.

♦  Daar was Dinsdagaand ook effense kommer in die Proteas se kamp oor die onbeskikbaarheid van die kaptein Faf du Plessis so kort voor die Indiese reeks wat aanstaande Vrydag (5 Januarie) begin.

Sy rugbesering en herstel van die skoueroperasie is teruggesit deur die virus wat hom verlede week platgetrek het. Dit kan ʼn gejaag teen tyd word om Indië te trotseer.

♦ Quinton de Kock het boonop, na ʼn voortgesette gesukkel om aan die gang te kom, sy dyspier beseer. Hy het na behandeling op die veld voortgekolf, maar was duidelik ongemaklik. Hy het net 24  aangeteken en De Villiers moes die handskoene vat toe Zimbabwe kom kolf het.

Vir die volledige telkaart en ander inligting en statistiek, klik op http://www.espncricinfo.com/series/18067/scorecard/1122310/south-africa-vs-zimbabwe-only-test-zim-in-sa-dec-2017-2017-18

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos1 ·

Baie interesante wedstryd, maar lyk vir my toets krieket is dood in SA. Al speel hulle middag aand, is besoekergetalle lag. Hoe kan die reeks om die As soveel toeskouers trek maar hier by ons lyk dit asof mense betaal moet word om te gaan kyk. Dis beslis iets waarna CSA moet gaan kyk.
Die pienk bal is my ander moeilikheid. Ek dink nie dit is die oplossing nie. Wat van ‘n rooi bal in sonlig en ‘n wit bal in nag spel? Die pienk bal is te kunsmatig en swaai te min. Dit veroorsaak dat ander spanne gekies moet word as dit by middag aand wedstryde kom.

Veritas ·

Koos1, ek dink die tydsberekening van die ‘toets’ is verkeerd. ‘n Eendag of T20 wedstryd sal meer toeskouers lok op tweede Kersdag. Daarby is die uitslag van die sg. toets reeds beskikbaar. Dit is so goed as om Floyd Mayweather teen Julius Malema te laat boks. Al genot wat daarin is, is hoe hard die een geslaan gaan word.

Koos1 ·

Vertitas, jy is reg in die sin van dat toeskouers T20 of ODI wil sien. Baie meer opwindend in SA, daarvandaan my stelling dat toetskrieket in SA dood is.
Kyk hoeveel toeskouers is tans by die 4de toets om die As in Australie.
Dit lê by CSA om ons toetse ens. vas te maak, maar ongelukkig beheer 1 land alle krieket in die wêreld en hulle het besluit hulle speel eers op 5 Januarie 2018 teen SA.

PS. Ek wil graag daai boksgeveg sien!!!!

Veritas ·

Ja-nee Koos die Indiese bevolking het gesorg dat, deur speler- en toeskouergetalle, hulle beheer van wêreldkrieket oorgeneem het. Hulle besluit waar en wanneer, wie teen wie speel. Natuurlik word dinge só bewimpel dat omstandighede hulle span bevooordeel. Toetskrieket is natuurlik die werklike krieketliefhebber se voorkeur formaat maar dit word afgeskeep deur die korter formate voorkeur te gee as gevolg van die populariteit van laasgenoemde. Veral in Indië waar biljoene betrokke is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.