Ierse oorwinning was g’n vloekskoot

Pure Ierse plesier. Foto: Twitter.

Ierland se oorwinning van 43 lopies teen die Proteas in Dublin was g’n vloekskoot nie. Die tuisspan het doodeenvoudig net beter gekolf, beter geboul en beter veldwerk as die besoekers gedoen.

En toe Mark Adair (2/43) vir Anrich Nortjé (10) in die 49ste boulbeurt van die Proteas se kolfbeurt skoongeboul het, was dit ’n geskiedkundige oomblik vir die Iere: Nie net was dit hul eerste oorwinning teen die Proteas in sewe probeerslae nie, maar dit was ook slegs die vierde keer in hul krieketgeskiedenis dat hulle met ’n span onder die topvyf-eendagkrieketlande kon afreken.

Andy Balbirnie, Ierland se kaptein, meen dat sy spelers juis hul beste gee wanneer hulle teen hierdie lande speel.

“Ons het nie dieselfde spelers as die groot spanne nie en ons beskik nie oor dieselfde krieketinfrastruktuur as hulle nie. Om een wedstryd teen só ’n span te wen is dus baie lekker, maar die uiteindelike doel moet ’n reeksoorwinning wees.”

Dan het Suid-Afrika se vreemde spankeuse lelik skeefgeloop om net vyf boulers vir die wedstryd te kies; as een van daardie boulers sukkel, is daar niemand anders om te help nie.

Soos die noodlot dit wou hê, het Kagiso Rabada (1/58) en Nortjé (0/64) gister gesukkel, terwyl Andile Phehlukwayo (2/73) oudergewoonte te veel lopies afgestaan het. Tabraiz Shamsi (1/42) en Keshav Maharaj (1/50) moes dus hul bes gedoen om die Iere in toom te hou.

Volgens Temba Bavuma, Protea-kaptein, het die twee spanne se pogings in die veld hemelsbreed van mekaar verskil.

Die Iere het met hul puik veldwerk druk op die Proteas toegepas, terwyl die Suid-Afrikaners nie net 95 lopies in die laaste tien boulbeurte afgestaan het nie, maar hulle het ook ’n hele paar vangskote verbrou.

Quinton de Kock, die held van die Windies-toer, het nog nie in Ierland gespeel nie en volgens Bavuma is dit om vir Janneman Malan speelkans te gee.

Die jong openingskolwer van die Cobras het gister weer eens nie teleurgestel nie en hy het 84 lopies van 96 aflewerings gemoker. In ses eendagwedstryde vir die Proteas het hy reeds 306 lopies teen ’n gemiddeld van 76,50 geslaan; hy verdien ongetwyfeld baie meer speelkans.

Maar benewens Rassie van der Dussen (49) het die res van die besoekers se kolwers gesukkel.

Aiden Markram, Bavuma, Kyle Verreynne en David Miller het almal minder as 25 lopies geslaan, terwyl Phehlukwayo (2) ook vroeg in sy beurt terug na die kleedkamer gestuur is.

Suid-Afrika word deur talle moeilike vrae in die gesig gestaar, maar tans is Andile Phehlukwayo nie die antwoord as ’n veelsydige speler op die krieketveld nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

SA ‘n groter span. Wat julle waar kry? SA het WI gewen, maar WI speel nie meer krieket nie. Hulle hou hulself met politiek besig. Nee wat SA se krieket is tans die laagste wat dit ooit was. Nogtans, geluk Ierland. As julle so asnhou gaan SA weer verloor.

Jack Russ1 ·

Wel WI en Aus is nou besig met ‘n T20 reeks en WI het klaar die reeks gewen en loop voor 3-0

Frank ·

Miskien laat die Iere uit simpatie toe dat ons 13 spelers die veld in stuur ipv 11. Herhinner hulle net julle is arme bloedjies uit Afrika, hulle moet sagkens met julle werk.

Jack Russ1 ·

So bietjie meer as ‘n paar weke, was 4 Augustus 2020 gewees. Hulle het eintlik al 2 keer vir Engeland geklop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.