Indië-breier soek AB terug op internasionale verhoog

AB de Villiers. Foto: Twitter.

Ja, AB de Villiers kon gisteraand net twee lopies van vyf aflewerings teen die Kings XI Punjab bymekaarskraap nadat hy om die een of ander rede eers op no. 6 gaan kolf het. Hy het egter in die vorige wedstryd teen die Kolkata Knight Riders gewys waartoe hy nog in staat op die veld is.

Die 36-jarige kolwer het vroeër die week die wind heeltemal uit die Kolkata Knight Riders se seile geslaan met 73 flinke lopies van slegs 33 aflewerings. Hy het ’n moeilike kolfblad soos ’n teerpad laat lyk en 11 grenshoue met die grootste gemak geslaan.

Ravi Shastri – Indië se nasionale krieketafrigter – het De Villiers se beurt as “onwerklik” beskryf en ’n beroep op die Suid-Afrikaner gedoen om vir oulaas weer deel van die internasionale krieketopset te word.

“In hierdie moeilike tye soek wêreldkrieket vir AB de Villiers terug op die internasionale verhoog. Dit sal goed wees vir die spel,” het Shastri op Twitter geskryf.

De Villiers het in 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig, maar hy is steeds deel van die aksie in verskeie T20-ligas.

In vanjaar se IPL-reeks het hy reeds 230 lopies teen ’n treftempo van 179 geslaan; g’n wonder dat Shastri saam met Mark Boucher hom terug in Protea-kleure vir die T20-Wêreldbeker soek nie.

Virat Kohli, die kaptein van die Royal Challengers Bangalore, is een van De Villiers se grootste ondersteuners en hy erken dat hy gisteraand ’n taktiese blaps gemaak het om die Suid-Afrikaner so laat in te stuur.

“Die Kolkata Knight Riders het ’n paar goeie bybreek-boulers en ons het gedink dat dit tot ons voordeel sou wees om ’n linkshandige kolwer saam met ’n regshandige kolwer teen hulle in te span,” het Kohli gesê.

“Daar is dae wanneer sulke besluite lekker werk, terwyl dit op ander dae minder suksesvol is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Hy het die knie gebuig so glo hy sal vir die ”kwoteas” weer speel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.