Indië sal moet veel, veel beter speel

Andile Phehlukwayo kry dalk speelkans. (Foto: Facebook CSA)

Aiden Markram is fiks en sal die Proteas se kolfbeurt open, en die Proteas se leierskorps het nog nie besluit of hulle met sewe kolwers en vier spesialisboulers sal speel nie.

Dit lyk of Andile Phehlukwayo in Keshav Maharaj se plek sal speel op die kolfblad wat darem die keer lewendig behoort te wees.

Theunis de Bruyn, ná Temba Bavuma se besering die enigste kolwer in die groep, sal dus waarskynlik weer van die kant af moet krieket kyk.

Suid-Afrika is die gunsteling om van Woensdag af die eerste keer skoonskip teen Indië te maak, selfs al het Indië nog nie op die Wanderers verloor nie.

Maar gaan dit saak maak? Nie op wat hulle tot dusver opgedis het nie.

Indië het nou sedert 1992 net twee van hulle 19 toetse tot dusver in Suid-Afrika gewen.  Daar is ʼn aantal faktore wat jou laat dink die besoekers sal weer aan die verloorkant wees.

Die Indiese kaptein Virat Kohli lei wel (meestal) deur sy voorbeeld as kolwer en is nou weer ná Steve Smith van Australië tweede op die wêreldranglys vir toetswedstryde.

Maar jy kry ál die indruk dat hy, al sal hy alles doen om te wen, met sy emosionele optrede sy eie spelers verwar en ontstel. Passievol, ja, maar dalk ook te krities.

♦  Dit was tot dusver nie ʼn reeks vir die kolwers nie. Kohli se pragtige 153 lopies in sy eerste beurt in Centurion, so goed as wat ʼn mens te sien sal kry, is die enigste honderdtal aan albei kante in die twee toetse. Hardik Pandya se 93 is Indië se tweede beste en die enigste vyftigtal aan hulle kant.

Vir Suid-Afrika was die twee Affiesmaats Faf du Plessis en AB de Villiers die kernkolwers. De Villiers is Suid-Afrika se voorste kolwer in  die reeks met ʼn gemiddelde van presies 50 nadat hy 200 lopies, insluitende ʼn telling van 80, aangeteken het. Du Plessis het 173 teen 43,3 aangeteken.

Lopies vir die Proteas was skaars en word deur die gemiddeldes bevestig. Daar is nie ʼn enkele honderdtal nie, met Hashim Amla (sukkel-gemiddelde van 22,5) se 82 die tweede hoogste kolftelling ná Aiden Markram.

Markram, wat 94 in die tweede toets geslaan het, het die naaste aan ʼn honderdtal vir die Proteas gekom. Sy gemiddelde van 33,5 vertel egter nie dat hy benewens daardie 94 net 40 lopies in drie beurte kon aanteken nie.

Vier kolwers met ʼn gemiddelde van meer as 29,25 (De Villiers 50,00, Du Plessis (43,25, Markram 33,50 en Elgar 29,25) vertel die Proteas se algehele somber kolfprentjie.

♦  Maar Kohli se 153 ten spyt, is sy gemiddelde onder 50, op 47,75. Pandya se 28,75 en Ravichandran Ashwin se 22,50 is die enigste ander twee gemiddeldes bo 20 lopies.

Só wen jy nie toetse nie.

Die Proteas se boulaanval en veral die ingesteldheid van die toerkolwerspan span word weerspieël deur die feit dat twee Proteaboulers, Lungi Ngidi (7 paaltjies teen 12,85), Vernon Philander (sy 10 paaltjies, die meeste, het 14,6 gekos; Morné Morkel (agt teen 20,75), KG Rabada (nege teen 21,77) en selfs Dale Steyn (twee teen 25,5) die Indiërs laat bontstaan het.

Aan Indiese kant het Ishant Sharma (vyf paaltjies teen 17,2) en Praveen Kumar (ses teen 20,00) saam met Mohammed Shami (paaltjies teen 20,22) goed gevaar. Ashwin (sewe teen 30,7) was nie naastenby die faktor wat hy op sy tuisvelde is nie, Bumrah was te los en het sy sewe paaltjies teen 34,75 elk verkoop.

Spel begin Woensdag om 10:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wikus Lee ·

Ek vermoed u is bietjie deurmekaar met die Sharmas in die Indiese span. In die tweede laaste paragraaf word genoem dat Rohit Sharma reeds vyf paaltjies in die reeks geneem het. Dit is seker Ishant Sharma waarvan julle praat. Ek kan op geen telkaart sien dat Rohit tot dusver ‘n enkele bal in die reeks afgestuur het nie.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Wikus
Dankie vir jou kommentaar! Ons vra om verskoning vir die oorsig – die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

koos ·

Praveen Kumar is ook nie eers in die groep nie, hy is in Indië. Dis Bhuvneshwar Kumar wat huidiglik hier toer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.