Indië se boulers glo reg, kolwers onder verdenking

Indië glo hulle kan van Saterdag af in Centurion die bordjies teen die Proteas verhang na die neerlaag in die eerste kriekettoets waar 18 paaltjies Maandag binne 64 boulbeurte geval het.

Dit is ʼn toets wat Indië eenvoudig móét wen om nie die reeks van drie te verloor nie, maar dit sal moeilik gaan op ʼn veld wat Suid-Afrika besonder goedgesind is. Die Proteas het reeds teen spanne van al die voorste lande al daar met ʼn beurt gewen.

♦  Die rede vir Indië se optimisme in die tweede toets is die vertoning van hulle snelboulers wat na Suid-Afrika se eerste kolfbeurt pragtig teruggeveg het – en dit is omdat hulle in die eerste beurt geleer het dat die snellers nie, soos in Indië, redelik vol kan boul nie, maar eerder op  die groen, vinniger kolfblaaie effens kort van ʼn lengte moet boul.

Sodoende sal die vinniger manne Suid-Afrika se kolwers met beweging van die blad af kan pla, glo hulle.

Jasprit Bumrah is ʼn sprekende voorbeeld van hoe die Indiërs reeds tydens die eerste toets besef het hulle sal moet aanpas.

In die eerste beurt is hy 28 keer in 19 beurte gedryf, maar in die tweede beurt, met sy korter balle, het hy die lopies met groter sukses binne perke gehou en is hy slegs 12 keer in 11.2 boulbeurte gedryf.

Verwag dus ʼn beter boulvertoning deur Indië.

♦  Daar kan egter nie buitengewone selfvertroue wees in hulle kolflys wat twee keer in Kaapstad inmekaar gestort het en slegs deur ʼn uitstekende 93 van Hardik Pandya in die eerste beurt effens aansien gekry het nie.

♦  Suid-Afrika sal moontlik die nuweling Lungi Ngidi in die beseerde Dale Steyn se plek vir die Centuriontoets kies. Chris Morris se ervaring sal wel gemis word, maar daar is kommer dat sy onlangse rugbesering nie genoegsaam herstel het nie.

Ander opsies uit die naatboulers om Steyn te vervang is Andile Phehlukwayo en Duanne Olivier.

Moontlike spanne –

Suid-Afrika
1 Dean Elgar, 2 Aiden Markram, 3 Hashim Amla, 4 AB de Villiers, 5 Faf du Plessis (kapt.), 6 Quinton de Kock, 7 Vernon Philander, 8 Chris Morris/Lungi Ngidi, 9 Keshav Maharaj 10 Kagiso Rabada 11 Morne Morkel.

Indië
1.Shikhar Dhawan, 2 M Vijay, 3 Cheteshwar Pujara, 4 Virat Kohli (kapt.), 5 Rohit Sharma, 6 R Ashwin, 7 Hardik Pandya, 8 Wriddhiman Saha, 9 Bhuveshwar Kumar, 10 Mohammed Shami, 11 Jasprit Bumrah.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.