Indië sê ja – en besigste SA krieketsomer nóg lê voor

Die besigste krieketsomer nóg lê vir Suid-Afrikaanse krieketliefhebbers voor nadat  Indië se kriekettoer na Suid-Afrika Woensdag bevestig is.

Indië en Suid-Afrika is tans die twee voorste lande op die wêreldranglys vir toetse, en die Proteas is die nommer een-span en die besoekers derde beste op die eendagranglys.

Daar sal die somer tien plaaslike toetse gespeel word teen Bangladesj, Zimbabwe, Indië en Australië.

Die reeks van twee toetse teen Bangladesj begin reeds aanstaande Donderdag (28 September) in Potchefstroom en die tweede toets word vanaf 6 Oktober af in Bloemfontein gespeel.

Daarna volg vier eendagwedstryde en twee T20s.

♦  Die dag-aand toets teen Zimbabwe sal oor net vier dae en met ʼn pienk bal op St Georgespark in Port Elizabeth vanaf 26 Desember gespeel word.

Krieket Suid-Afrika se hoofbeampte, Haroon Lorgat, het beklemtoon dat die toetsstatus van hierdie wedstryd onderhewig is aan die goedkeuring van die Internasionale Krieketraad.

♦  Indië se deelname en die lengte van die toer is na lang onderhandelinge tussen die twee lande se beheerliggame bevestig nadat Indië se vol program die beplanning  van die toer beïnvloed het.

Daar sal nou drie pleks van vier toetse gespeel word. Indië speel tot 24 Desember nog toetskrieket teen Sri Lanka. Indië het nie kans gesien vir die toetse wat twee dae later, vanaf 26 Desember op St Georgespark en vanaf 1 Januarie op Nuweland, sou begin nie.

Die spelers het ʼn ruskansie ná die Sri Lanka-reeks nodig, sê hulle beheerraad.

Indië sal nou eers op 28 Desember in Suid-Afrika aankom en met ʼn tweedaagse opwarmwedstryd op 30 en 31 Desember teen die Boland op Bolandpark begin.

Daarna volg drie toetswedstryde, ses eendaagse wedstryde en drie T20-kragmetings.

Die eerste toets op Nuweland sal op 5 Januarie begin. Die datums en velde vir die ander wedstryde sal binnekort bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

Vat 3 ODI’s en 2 T20’s weg en speel nog ‘n toets. Dit toe werklike maatstaf van krieket is tog toetse en die die trap-en-klap T20 nie.

Nico K ·

Die probleem is niemand kyk meer toetse nie. Hoeveel mense sit op die pawiljoen die Donderdag en Vrydag? Maar die stadion is vol met beperkte beurt krieket. Hoewel ek self van mening is daar word nou heeltemal te veel een dag wedstryde gespeel word en dit raak ook afgesaag.

Jack Russl ·

Min mense kyk toetse deur die week, naweke is die bywoning baie beter.

Dit is nou maar weer geld wat praat en mense wat niks weet van krieket af nie. T20’s in opwindend as die bal so rondvlieg, maar daar word nie veel strategie uitgewerk soos met toetse nie. Ek het al toetse gekyk wat meer interesant was as T20’s.

Dit is juis hoekom dit ‘n toets genoem word, want dit is waar die ware krieket getoets word. Alles het deesdae ‘n gejaag geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.