Indië se kolwers onder druk teen Proteas se snelarsenaal

Suid-Afrika is in ʼn bloeitydperk wat snel- en naatboulers betref.

Sondag was die nuweling, Lungi Ngidi, ʼn lekker verrassing op toetsvlak. Een van sy balle is teen 150 km/h afgestuur, hy het beweging van die blad af gekry en boonop omgekeerde swaai op ʼn kolwersblad gebruik om Indië aan bande te lê.

Teen uitskeityd het Indië op 183/5 gestaan, nog 152 lopies agter Suid-Afrika se 335 almal uit. Om te sê hulle wankel, sal nie reg wes nie, Virat Kohli was uitmuntend met sy 85 lopies in 130 balle met agt viere, en kom saam met Hardik Pandya (11) voortkolf.

Laasgenoemde het Indië se eerste beurt verlede week op Nuweland met sy 93 lopies aansien gegee. Voordat hy én Kohli uit is, sal Faf du Plessis-hulle nie kan rus nie.

KG Rabada, amptelik die wêreld se voorste bouler, Morné Morkel en Vernon Philander is nou ʼn viertal snellers wat tussen hulle die vermoë het om wip, vaart, omgekeerde swaai en normale swaai te boul en Indië se kolwers hard sal laat werk.

Ngidi was die derde keuse wat nadergeroep is nadat Dale Steyn ses weke lank nie sal kan speel nie, met Chris Morris se rugbesering wat steeds kommer wek. Dan is daar nog Duanne Viljoen wat ook in die spelersgroep is.

♦  In elk geval, Faf du Plessis-hulle het Sondag, ná Saterdag se dramatiese weggooi van drie paaltjies in net vyf balle (twee is uitgehardloop), met hulle telling op 269/6 kom voortkolf. Du Plessis en Keshav Maharaj het die telling tot 282/7 gevoer, met laasgenoemde wat sy stukkies geluk gehad het maar vir meer as ‘n uur kopgehou het.

Toe is Rabada van twee opeenvolgende balle laat val, maar hy het met blote geluk vasgebyt en saam met Du Plessis 48 lopies aangeteken met die agtste paaltjie wat op 324 geval het.

Met Du Plessis, wat al hoe vinniger begin kolf het soos sy kolfmaats gesneuwel het, uit vir 63 lopies (142 balle, nege viere) was Suid-Afrika se beurt een paaltjie en twee lopies later op 335 verby – teleurstellend, in ag genome dat hulle Saterdag in ʼn stadium 246/3 was.

Ishant Sharma (3/46) en Ravichandran Ashwin (4/114) was Indië se gevaarboulers.

♦  En dit is tóé dat die Proteas snelarsenaal toegeslaan en deurgaans druk toegepas het.

Die stadige kolfblad het Kohli soos in Indië laat speel met ʼn groot tree vorentoe vanwaar hy sy dryfhoue kon uitvoer. Opslagballe was nie ʼn teenvoeter op hierdie stadige kolfblad nie .

Die Proteas se boulers is egter nie geïntimideer nie, en selfs Kohli moes met oordeel en groot konsentrasie sy ding doen toe die snelboulers met groot dissipline al hoe meer kort van ʼn lengte geboul het.

Eers is Rakesh Rahul deur Morkel gevang en geboul, en toe het Ngidi met ʼn trefgooi vir Cheteshwar Pujara uitgehardloop.

Murali Vijay (46, 126 balle, ses viere) het toe saam met Kohli die Indiese beurt van 28/2 na 107/3 gevoer voordat sy bekende ongeduld teen draaiers hom een swak kaphou-poging te veel na Keshav Maharaj se balle laat speel het. Quinton de Kock se vangskoot was uit die boeke uit.

Die laaste twee manne is toe deur Ngidi en Rabada uitgehaal.

Die Proteas se boulers kan met voorgesette dissipline en druk deur ʼn vroeë slag of twee ʼn deeglike houvas op die toets kry – een wat Indië eenvoudig móét wen om die reeks te red.

Vir die volledige telkaart en ontledings, klik op die skakel

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.