Indië trap Aussies weer

Australië se kolflys het op die derde dag van die toets soos domino’s geval. (Foto: BCCI/Twitter)

Indië het die tweede toets teen Australië in Delhi met ses paaltjies gewen om te verseker hy kan nie die reeks van vier toetse verloor nie. Die tuisspan loop nou 2-0 voor in die reeks ná ʼn reuse-oorwinning in die eerste toets in Nagpur.

Australië se kolflys het op die derde dag van die toets soos domino’s geval en dit was ʼn boulersparadys met tien paaltjies wat in die oggendsessie in minder as 21 boulbeurte gekantel het. Die besoekers het dit ook vir die Indiese boulers maklik gemaak deur onbesonne veeghoue te probeer uitvoer wat hulle telkens in die moeilikheid laat beland het.

Travis Head (43) en Marnus Labuschagne (35) was die enigste Australiese kolwers wat dubbelsyfers kon behaal. Vyf van die tien paaltjies het geval omdat die kolwers skoongeboul is. Al die Aussie-kolwers was terug in die pawiljoen vir net 113 lopies. Ravindra Jadeja het gespog met boulsyfers van 7/42.

Dit het aan Indië ʼn wenteiken van 115 gestel. Dit het gelyk of die tuisspan se kolwers haastig was op pad huis toe want hulle het blitsig gekolf en die wenteiken in die 27ste beurt bereik. Kaptein Rohit Sharma het sy 31 lopies in net 20 balle aangeteken en twee sesse geslaan.

Heel gepas het Cheteshwar Pujara die wenlopie met ʼn vier aangeteken. Dit was sy 100ste toets en hy is boonop in die eerste beurt uit vir ʼn nulletjie.

Die derde toets begin op 1 Maart in Indore.

In Mount Maunganui in Nieu-Seeland het die tuisspan se kolflys ook bitter maklik in duie gestort. Engeland het aan hulle ʼn wenteiken van 394 gestel, maar is uitgeboul vir ʼn skamele 126. Dit gee aan die besoekers ʼn oorwinning met 267 lopies en ‘n 1-0 voorsprong in die toetsreeks.

Die Kiwi-kolwers Daryl Mitchell (57), Michael Bracewell (25) en Tom Latham (15) was die enigste kolwers wat dubbelsyfers kon bereik.

Engeland se veteraan-boulers James Anderson en Stuart Broad het die meeste skade aangerig en vier paaltjies elk in Nieu-Seeland se tweede beurt platgetrek. Dit het beteken Anderson het 7 paaltjies in die wedstryd ingeoes.

Die Engelsman Harry Brook is as speler van die wedstryd aangewys vir sy 89 en 54 lopies in die besoekers se twee kolfbeurte.

Die tweede toets begin Vrydag in Wellington.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.