Indië wen, maar Protea-vroue lag laaste

Foto: Twitter via KSA.

Indië se vrouekrieketspan het weliswaar gister die Proteas oorrompel om die derde en laaste T20-wedstryd met nege paaltjies te wen, maar die Suid-Afrikaners het steeds die reeks met 2-1 beklink.

Suné Luus se span het nooit werklik aan die gang gekom nie en die tuisspan se draaiers het hulle tot 112/7 in die toegelate 20 boulbeurte beperk.

Daarna het Shafali Verma (60 van 30 balle) en Smriti Mandhana (48 van 28 balle) verwoesting onder die Protea-boulers gesaai om die wedstryd in 11 boulbeurte te wen.

Maar waar Indië die wedstryd-veldslag gewen het, het Suid-Afrika in die reeksoorlog geseëvier.

Afrigter Hilton Moreeng was duidelik in sy noppies met sy span se vertoning en hy het die Indiërs vir hul gasvryheid geloof.

“Ons vertrek vandag uit Lucknow, maar die herinneringe wat ons hier gemaak het, sal by ons bly. Hierdie was ’n ongelooflike toer vir die hele span,” het hy op sosiale media geskryf.

Die Proteas het nie net die T20-reeks gewen nie, maar hulle het vroeër ook die eendagreeks met 4-1 oorheers.

Spelers soos Lizelle Lee, Laura Wolvaardt, Shabnim Ismail en Mignon du Preez het goed vertoon en ’n hele paar Suid-Afrikaanse spelers het goeie ranglysvordering gemaak.

Marizanne Kapp is die tweede beste bouler en veelsydige speler op die internasionale eendagkrieketverhoog, terwyl Lee die naasbeste kolwer in die 50-boulbeurtformaat van die spel is.

  • Uitslae:

Eerste eendagwedstryd: Suid-Afrika wen met agt paaltjies

Tweede eendagwedstryd: Indië wen met nege paaltjies

Derde eendagwedstryd: Suid-Afrika wen met ses lopies

Vierde eendagwedstryd: Suid-Afrika wen met sewe paaltjies

Vyfde eendagwedstryd: Suid-Afrika wen met vyf paaltjies

Eerste T20-wedstryd: Suid-Afrika wen met agt paaltjies

Tweede T20-wedstryd: Suid-Afrika wen met ses paaltjies

Derde T20-wedstryd: Indië wen met nege paaltjies

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

Die SA vroue spanne oordskadu die mans spanne met beide Krieket en Sokker welgedaan aan hulle vinnig besig om beste in die wereld te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.