Indiërs leer Proteas ʼn krieketles

Kuldeep Yadav het vyf paaltjies op sy 29ste verjaardag geneem. (Foto: X/BCCI)

Die Indiërs het dalk op St. Georgepark die onderspit teen die Proteas gedelf, maar hulle is ongetwyfeld T20-meesters.

Suryakumar Yadav se span het pas vir Suid-Afrika met 106 lopies op die Wanderers oorrompel. In ʼn neutedop het die besoekers beter gekolf, terwyl hul draaiers die stomme tuisspankolwers deurmekaar geboul het.

Yadav geniet net soos AB de Villiers ʼn 360°-bynaam en hy het vandag die Protea-boulers links en regs uitmekaar geslaan.

Die Indiese kaptein het 100 lopies van slegs 56 aflewerings gemoker en sy blitsbeurt het agt groot sesse ingesluit.

Hy het ʼn gewillige vennoot in Yashasvi Jaiswal gevind en saam het hulle 112 lopies om die derde paaltjie aangeteken om toe te sien dat Indië 201/7 in sy toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Keshav Maharaj het die beste onder die plaaslike boulers gevaar en hy het net 26 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan, terwyl hy ook twee paaltjies geneem het.

Daarna het die Suid-Afrikaanse kolwers nooit aan die gang gekom nie en hulle het veral teen die draaiboulwerk van Kuldeep Yadav en Ravindra Jadeja gesukkel.

Kuldeep het op sy 29ste verjaardag vyf Proteas terug na die kleedkamer gestuur, terwyl Jadeja die belangrike paaltjie van Aiden Markram geneem het.

Boonop is Andile Phehlukwayo vir die sewende keer in sy internasionale T20-loopbaan vir ʼn nulletjie uitgehaal – ʼn nuwe Suid-Afrikaanse rekord.

Die vorige rekord van ses nulletjies het agter Temba Bavuma se naam gestaan.

Dit is nooit lekker as jou span vir 95 lopies uitgehaal word terwyl sy teenstanders meer as 200 lopies op die einste blad kon aanteken nie.

Die eerste eendagwedstryd tussen die twee spanne word Sondag ook op die Wanderers beslis en die aksie begin om 10:00.

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 201/7 in 20 boulbeurte: Suryakumar Yadav 100, Yashasvi Jaiswal 61 en Keshav Maharaj 2/26.

Suid-Afrika 95/10 ná 13,5 boulbeurte: David Miller 35, Aiden Markram 25 en Kuldeep Yadav 5/17.

Die spanne deel die reeks 1-elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.