Indiese IPL: Faf voor AB in die ry

Faf du Plessis in aksie. (Foto: NOAH SEELAM/AFP)

Faf du Plessis en die veelsydige Chris Morris is byna die enigste twee Suid-Afrikaanse bakens wat uitstaan in vanjaar se Indiese Premierliga.

Die voortsetting van die toernooi, wat in ʼn bioborrel beslis word, word erg bevraagteken oor die Covid-19-pandemie en die Indiese draaibouler Ravichandran Ashwin het juis Maandagoggend besluit om die bioborrel te verlaat om eerder sy gesin by te staan.

Du Plessis is derde op die lys van voorste kolwers nadat hy tot dusver 214 lopies met ʼn treftempo van 138,96 aangeteken het.

Maar die res van die Suid-Afrikaanse kolwers vaar maar so-so, wat AB de Villiers insluit, hoewel hy steeds ʼn wêreldbreker is.

De Villiers het tot dusver 129 lopies aangeteken, met ʼn hoogste telling van 76*.

In Sondag se kragmeting vir die Royal Challengers Bangalore (RCB) teen die Chennai Super Kings (Du Plessis se span) het hy vier lopies aangeteken en Du Plessis 50.

Ja, dis darem veel beter as David Miller (88 lopies) en Quinton de Kock (47) se bydraes tot dusver.

Morris, wat reeds 48 lopies aangeteken het, is Suid-Afrika se voorste bouler met nege paaltjies. Hy word gevolg deur Kagiso Rabada (4), Lungi Ngidi (3) en Imran Tahir, wat Sondag twee paaltjies teen RCB geneem het.

Die groentjie Marco Jansen (2 paaltjies) het in sy twee wedstryde ook die oog getref.

Anrich Nortje, wat in kwarantyn was vanweë Covid-19, is nog langs die grenstou.

Chris Morris. Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Die groot vraag is hoeveel van dié spelers in die T20-span sal wees wat in Oktober in Indië in die T20-Wêreldbeker moet speel.

As die afrigter, Mark Boucher, De Villiers se arm kan draai, sal hy beslis die middelorde versterk, met Du Plessis, De Kock of Temba Bavuma wat straks as die aanvangspaar ingespan sal word.

Maar is dit regverdig om Aiden Markram, wat Suid-Afrika se beste kolwer in die afgelope T20-reeks teen Pakistan was, asook Pieter Malan op die ashoop te gooi?

Wat van Rassie van der Dussen?

Ook speel Morris om die een of ander rede baie min vir Suid-Afrika.

Dis hartseer, want ander veelsydige spelers soos Andile Phehlukwayo, Wiaan Mulder en George Linde staan agter hom in die tou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Hulle hoef nie meer bekommerd te wees oor wie gaan speel en wie nie. Niemand gaan speel nie wat hulle minister het mis nou besluit krieket ontbind. So bly maar in die buiteland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.