Ná meer as ’n maand lange speltydperk het die Mumbai Indians se Hardik Pandya gister die eerste speler geword om die knie ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging te buig.
Die Indiese veelsydige ster het 60 vinnige lopies van slegs 21 aflewerings teen die Rajasthan Royals geslaan. Sy beurt kon egter nie verhoed dat die Royals die wedstryd met agt paaltjies gewen het nie.
Pandya het die knie gebuig nadat hy sy vyftigtal behaal en in die rigting van die Indians se spelersgebied beduie het. Sy kaptein, die Wes-Indiese speler Kieron Pollard, het die gebaar met sy gebalde vuis in die lug beantwoord.
#BlackLivesMatter pic.twitter.com/yzUS1bWh7F
— hardik pandya (@hardikpandya7) October 25, 2020
Vroeër was die Windies se internasionale kaptein, Jason Holder, ongelukkig omdat die BLM-beweging stoom in die internasionale krieketarena verloor het.
“Dit is belangrik dat die wêreld verstaan waar ons as swart mense vandaan kom, terwyl hulle ook begrip het vir die harde werklikheid: Daar is ongetwyfeld ongelykheid in die wêreld,” het Holder gesê.
Hy was ook ontevrede omdat daar vóór gister nog geen erkenning aan die beweging in die IPL gegee is nie. ’n Oomblik van stilte is wel voor die openingswedstryd tussen die Chennai Super Kings en die Mumbai Indians vir diegene gehou wat die Covid-19-pandemie in die voorste linies beveg.
“Om eerlik te wees, ons het nog nie een keer hier daaroor [BLM] gepraat nie. Soms lyk dit asof dit ongesiens verbygegaan het, wat ’n hartseer stand van sake is. Ek dink dit is ons verantwoordelikheid om weer die belangrikheid daarvan te beklemtoon sodat mense kan verstaan wat in die wêreld gebeur,” het Holder gesê.
Dan het Suid-Afrika se Kagiso Rabada gedurende onlangse onderhoude met die Indiese media gesê dat hy die knie gedurende die IPL sal buig as daar vir hom gesê word om dit te doen.
“Vir my maak swart lewens saak. Dit het niks met krieket, sport of ondernemings uit te waai nie; net dat swart lewens saak maak en daarvoor sal ek opstaan,” het hy gesê.
Tog het hy ook gemaan dat dit nie op ander afgedwing moet word nie.
“Dit beteken egter hoegenaamd nie dat ek verwag om oral waarheen ek gaan soos ’n koninklike behandel te word nie. Maar vanuit ’n trots- en waardigheidsoogpunt is swart lewens belangrik.”
Intussen het die Wallabies besluit om nie die knie vóór hul Bledisloe-kragmeting teen die All Blacks in Sydney te buig nie.
Volgens afrigter Davie Rennie sal die span geen politieke stelling maak nie, maar hulle sal eerder hulde aan Australië se inheemse bevolking (Aborigines) bring.
Dit volg nadat die voormalige Wallabies-kaptein, Nick Farr-Jones, gesê het om die knie te buig kan die Australiërs van sommige toeskouers vervreem.
“Van die ondersteuners gaan pleinweg net hul TV’s afsit. Hulle wil nie politiek in nasionale sport sien nie,” het Farr-Jones gesê.
En net omdat hy nou die knie gebuig het, verdwyn alle vorme van rassisme soos mis voor die son. Welgedaan krieketheld.
10 uit 10 vir die Ausies. Ek begin hulle sommer like.
Ongelykheid??? Wat jy waar kry? Hoeveel miljoen het jy verdien om daar te speel, swart vel en al, saam met die “onderdrukkers”??? Swernoot! Sit en bly stil, man!