Ingram een van die voorste BBL-kolwers

Colin Ingram. Foto: Asif Hassan/AFP.

Colin Ingram het weliswaar in net 40 witbalkrieketwedstryde (eendag- en T20-kragmetings) vir die Proteas gespeel, maar hy is een van die voorste blitskolwers ter wêreld.

Die 35-jarige hotklou het al onder meer vir die Delhi Capitals, die St Lucia Zouks en die Karachi Kings in internasionale T20-kompetisies gespeel.

Deesdae is hy ook die bestendigheid self vir die Hobart Hurricanes in Australië se Big Bash League (BBL).

In agt beurte vir Hobart het hy reeds 228 lopies teen ’n treftempo van 133,33 gemoker en hy tel onder die tien top-lopiemakers in die reeks.

Dawid Malan, die wêreld se voorste T20-kolwer en oudleerling van Paarl Boys’ High, het in vier wedstryde vir die Hurricanes reeds sy stempel op die toernooi afgedruk en hy slaan sy lopies teen ’n gemiddeld van 38,75.

Hy was juis ’n doring in die Proteas se vlees in die afgelope T20-reeks teen Engeland.

Dinge lyk egter minder rooskleurig vir Rilee Rossouw.

Die sterkolwer het in sewe kragmetings vir die Melbourne Renegades nog net 105 lopies aangeteken. Hoewel hy teen ’n vinnige tempo kolf, smyt hy gereeld sy paaltjie op onoordeelkundige wyse weg.

Dan het die 38-jarige Johan Botha 2/20 vir die Hurricanes teen die Adelaide Strikers geneem, terwyl Morné Morkel nog nie veel speelkans in die Brisbane Heat gekry het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.