Interessante laaste dag wag op Proteas

Faf du Plessis - ankerbeurt (Foto abc.net)

Faf du Plessis – ankerbeurt (Foto: abc.net)

Suid-Afrika se kolwers het op dag vier van die eerste toets teen Nieu-Seeland in Dunedin gesukkel en dis aan die tuisspan se slordige veldwerk te danke dat hulle nog in die wenprentjie is.

Dean Elgar is twee keer (op 35 en 48) laat val en het uiteindelik 89 stadige lopies in nog ‘n ankerbeurt aangeteken; en JP Duminy het self twee gelukskote gehad.

Faf du Plessis-hulle het na die vroeë verlies van Hashim Amla – hy is in die vierde boulbeurt van die dag uitgehaal – teen ʼn slakkepas gekolf. Op ʼn dag wat deur reën en swak lig onderbreek is, het hulle teen die stadige kolftempo van 2,19 lopies per beurt deurgedruk tot 224/6, ʼn voorsprong van 191 lopies met nog vier paaltjies staande.

Sondag gaan ʼn interessante dag se krieket wees, met die moontlikheid dat Du Plessis, onoorwonne op 56, dalk sal moet verklaar om ʼn wenkans te hê. Aan die ander kant benodig die Proteas egter nog sowat 50, 60 lopies om dit nie vir die tuisspan te maklik te maak om ʼn wenteiken te kan jaag nie.

Benewens die snelboulers wat in die oggend effense wip gekry en ook hulp deur die bal wat stadig van die blad af deurgekom het, was daar vir die Nieu-Seelandse draaiers die voordeel dat die blad en ook bewolkte weer hul boulwerk begin bevoordeel het.

Die voetmerke van die vinnige manne op die eerste drie-plus dae het aan hulle ook ʼn nuwe bondgenoot verskaf met die bal wat op ongelyke hoogte begin deurkom.

Jeetan Patel en Mitchell Santner het tussen hulle reeds 55 van die 102 beurte in Suid-Afrika se kolfbeurt geboul en het saam minder as twee lopies per boulbeurt afgestaan. Boonop het hulle drie van die ses paaltjies tot dusver geneem.

Een daarvan was dié van Quinton de Kock, wat die vierde opeenvolgende keer deur Patel uitgehaal is. Sy skamele bydrae was hierdie keer net vier lopies op ʼn dag waar die Proteas se kolwers, met die uitsondering van Dean Elgar (89 na sy eerste beurt-telling van 140), Du Plessis (56 nun) en JP Duminy (ʼn onoortuigende en gelukkige 39) nie die mas opgekom het nie.

Suid-Afrika het Saterdagoggend op 38/1 kom voortkolf. Amla was in die vierde beurt die eerste uit (39/2). Hy het te vroeg gespeel na ʼn bal op die stadige blad wat darem in die oggend ʼn bietjie lewe getoon het en is op vlak-middebaan gevang. Sy 24 lopies was ʼn voortsetting van sy gesukkel die afgelope maande.

Neil Wagner het hierdie vroeë deurbraak gemaak en toe ook vir Duminy op 113/3 beenvoor betrap. Duminy het geskrop en glad nie oortuig nie. Dit was Du Plessis wat toe ingekom en met uiterse konsentrasie die karige voorsprong saam met Elgar help aanvul het.

Albei was die voorbeeld van konsentrasie, maar Elgar het nie so  stewig soos in  die eerste beurt gekolf nie en is onder meer twee keer laat val. Hy het die skaars onderskeiding van twee honderdtalle in een toets met elf lopies misgeloop toe hy, teen die aard van sy kolfbeurt in, ʼn bal probeer wegmoker het en halfpad na die grens af gevang is.

Die telling was toe 193/4 en die voorsprong slegs 160 lopies. Agt boulbeurte en 13 lopies later was Temba Bavuma (6), wat redelik stewig vertoon het, ook op pad pawiljoen toe. Hy het ʼn bal van Santner gespeel en dit stadig tussen sy bene deur gerol om die een balkie te laat kantel. De Kock was 12 lopies later op sy pad kleedkamer toe (218/6).

Vernon Philander het nou die taak om saam met sy kaptein die voorsprong tot sowat 240 lopies te probeer neem. Met net een spesialis-draaier in Keshav Maharaj weet die Proteas nou waarom Nieu-Seeland met twee, Patel en Santner, die wedstryd binnegegaan het.

Swak lig, moontlike onderbrekings deur reën en selfs sneeu, en die kolfblad wat Saterdag reeds baie konsentrasie van die kolwers geverg het, gaan dit vir Suid-Afrika moeilik maak om ʼn realistiese teiken te stel – en wat hierdie teiken ook al mag wees, sal die blad en die weer moontlik vir Nieu-Seeland self ʼn klompie nagmerries  besorg.

Klik op die skakel vir die volledige telkaart en statistieke van die toets se eerste twee dae: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020041.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.