Internasionale supersterre maak gereed vir plaaslike blitsreeks

Chirs Gayle. Foto: Facebook.

Koop maar solank jou harde hoed vir die tweede weergawe van die Mzansi Superliga, daar gaan ’n paar krieketsupersterre in aksie wees wat die lang steel behóórlik kan inlê.

Spelers soos die Tshwane Spartans se AB de Villiers, die Jozi Stars se Chris Gayle en die Suid-Afrikaanse Engelsman, Jason Roy, sal ses-slaanwoema aan die toernooi verleen.

’n Opgewonde Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika se hoof- uitvoerende beampte, het gesê toeskouers sal beslis vermaakwaarde vir die prys van hul kaartjies kry.

Jason Roy. Foto: Facebook.

“Die gehalte van die deelnemende spelers beteken dat die standaard baie hoog is. Ons kan uitsien na ’n hele paar aksiebelaaide wedstryde wat die verbeelding van krieketgeesdriftiges nie net in Suid-Afrika nie, maar ook oor die hele wêreld, sal aangryp,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat daar ’n rekordtal internasionale spelers by volgende maand se spelerveiling betrokke sal wees.

Die verskillende franchise-spanne het reeds hul plaaslike en internasionale sleutelspelers bekend gemaak, met die Jozi Stars (verdedigende kampioen) wat die sterkste duo in Kagiso Rabada en Gayle het.

Die Kaapse duo van De Kock – Suid-Afrika se nuwe T20-kaptein – en die blitsige Wahab Riaz is ook nie te versmaai nie, terwyl Nelson Mandelabaai se reuse Imran Tahir en Roy is.

  • Die aksie begin Novembermaand.
  • SA sterre:

Cape Town Blitz: Quinton de Kock

Durban Heat: Andile Phehlukwayo

Jozi Stars: Kagiso Rabada

Nelson Mandela Bay Giants: Imran Tahir

Paarl Rocks: Faf du Plessis

Tshwane Spartans: AB de Villiers

  • Internasionale sterre:

Cape Town Blitz: Wahab Riaz (Pakistan)

Durban Heat: Alex Hales (Engeland)

Jozi Stars: Chris Gayle (Wes-Indië)

Nelson Mandela Bay Giants: Jason Roy (Engeland)

Paarl Rocks: David Willey (Engeland)

Tshwane Spartans: Tom Curran (Engeland)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charmaine ·

Chis Gayle gaan daai kolwe stukkend slaan met daai arms van hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.