IPL: Faf blink uit in groot sege

Argieffoto van Faf du Plessis in aksie (April 2021) (Foto: Noah Seelam/AFP)

Faf du Plessis, voormalige kaptein van die Proteas en die Royal Challengers Bangalore, het ʼn sleutelrol gespeel in sy span se oorwinning oor die Sunrisers Hyderabad in die Indiese Premierliga.

Hy het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Du Plessis het 73 onoorwonne lopies aangeteken nadat hy RCB se beurt saam met Indiese krieket-superster Virat Kohli gaan open het. Kohli het weer misluk en is van die eerste bal af uitgevang toe hy pap houtjie van Jagadeesha Suchith se boulwerk af reguit in Sunrisers se kaptein, Kane Williamson, se hande gestuur het.

Du Plessis het net 50 balle nodig gehad vir sy lopies en het twee sesse en agt viere gemoker. Hy is goed bygestaan deur Rajat Patidar (48) en Glenn Maxwell (33). Dinesh Karthik was in ʼn verwoestende bui en het vier sesse geslaan in sy beurt van 30 lopies van net agt balle af. Dit het RCB gehelp om 192/3 te bereik in hulle twintig boulbeurte.

Die Sunrisers was van die begin af op die agtervoet. Williamson is uitgehardloop sonder dat ʼn bal na hom geboul is. Met net een lopie op die telbord het Maxwell boonop vir Abhishek Sharma geboul.

Rahul Tripathi (58) en die Suid-Afrikaner Aiden Markram (21) het moedig probeer om die skip weer op koers te kry, maar die paaltjies het met reëlmaat gekantel.

Die Sunrisers is in die laaste beurt uitgeboul vir net 125 lopies. Hulle kolfbeurt het vier nulletjies ingesluit. Wanindu Hasaranga de Silva het vyf paaltjies vir RCB platgetrek in sy vier boulbeurte. Hy het net agtien lopies afgestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fran ·

Berig begin verkeerd…..Faf is TANS die kaptein van RCB en nie VOORMALIGE kaptein nie. Vir al die Faf haters, laat asb van julle hoor. O nee, niks om te sê nie.

Manie ·

Faf het gesien wat besig is om te gebeur en net betyds uitgeklim. Ek gun hom al die geld wat hy in toernooie van sy keuse maak.

Boer ·

Die Protias stel net nie belang in hom nie, wel FAF maak soos AB raak n miljoener en speel IPL, Big Bash ens. toernooie. Laat KSA maar vlieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.