IPL is ook afgelas

AB de Villiers laat waai met nog n ses. Foto: Cricinfo.

Die Indiese Premierliga (IPL) is die jongste sportgeleentheid wat as gevolg van die wêreldwye Covid-19-pandemie afgelas is.

Vanjaar se toernooi moes van 29 Maart tot 24 Mei plaasgevind het en dié jaarlikse T20-krieketskouspel lok jaarliks derduisende toeskouers in Indië, terwyl die spelers ook miljoene vir hul deelname verdien.

Volgens Indië se krieketbeheerliggaam is ’n nuwe datum vir die toernooi nog nie vasgestel nie. Dié finale besluit kom nadat die toernooi aanvanklik tot 15 April uitgestel is.

Tydens verlede jaar se spelersveiling het die verskillende franchise-spanne amper $20 miljoen op 62 oorsese spelers bestee. Australië se Pat Cummins het die duurste speler in IPL-geskiedenis geword toe die Kolkata Knight Riders amper $2 miljoen vir sy dienste betaal het.

Kagiso Rabada. Foto: Cricinfo.

Onder die Suid-Afrikaanse spelers sou Lungi Ngidi (Chennai Super Kings), Faf du Plessis (Chennai Super Kings), Imran Tahir (Chennai Super Kings), Chris Morris (Royal Challengers Bangalore), Quinton de Kock (Mumbai Indians) en Kagiso Rabada (Delhi Capitals) weer in aksie gewees het.

AB de Villiers is ook een van die Royal Challengers se sterre en Mark Boucher (Protea-afrigter) het onlangs gesê dat De Villiers vanjaar se IPL as ’n krieket-hupstoot moet gebruik om weer deel van die Protea-planne vir die T20-Wêreldbeker in Australië te word. As dié toernooi nog voortgaan, bygesê.

Kevin Pietersen is egter altyd ’n man met ’n plan en hy het in ’n media-onderhoud voorgestel dat die IPL later vanjaar agter geslote deure gespeel moet word.

Kevin Pietersen. Foto: Twitter.

“Ek glo werklik dat die IPL moet voortgaan; kom ons sê argumentsonthalwe in Julie/Augustus op die vroegste,” het Pietersen gesê.

Volgens Pietersen kan die toernooi oor ’n maand by drie verskillende venues voltooi word.

“Kom ons hou die toernooi by drie venues, wat veilig is. Ek dink die toeskouers moet nie so blootgestel word nie en hulle moet verstaan dat dit dalk nie moontlik sal wees om regstreekse krieket vanaf hul pawiljoen-sitplekke vir die voorsienbare toekoms te volg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.