IPL: Party Proteas aan die brand, ander effens verlep

(Foto: Royal Challengers Bangalore/Twitter)

Jofra Archer lyk na ’n rustige kalant; daardie stadige (dog gladde) aanloop en swaar goue ketting om die nek behoort nie veel vrees by kolwers in te boesem nie, of hoe?

Tog kan die Engelsman kartetse teen vinniger as 150 km/h afstuur, terwyl hy deksels gevaarlik is – vra net vir Steve Smith in verlede jaar se Reeks om die As.

Om ’n ses van sy boulwerk te slaan om ’n wedstryd vir jou span te beklink sit dus nie in enigeen se broek nie. Maar daar is ’n rede waarom AB de Villiers amper superheld-status in Indië geniet.

Die 36-jarige voormalige Protea-kaptein het gister in ’n merkwaardige beurt 55 lopies van slegs 22 aflewerings geslaan om so te sê op eie houtjie die wedstryd vir die Royal Challengers Bangalore teen die Rajasthan Royals te wen.

Met twee boulbourte in die wedstryd oor moes RCB 35 lopies vir ’n onwaarskynlike oorwinning aanteken, maar “ABD” het met mening onder Jaydev Undakat en Archer se boulwerk ingeklim.

“Ek word lekker op my senuwees, maar ek probeer dit wegsteek. Ek is trots op my vertoning en ek wil my span help om wedstryde te wen,” het hy gister ná die afloop van sy spogvertoning gesê.

Ná gister se Superman-vertoning het oudspelers soos JP Duminy, Virender Sehwag en Tom Moody sy lof besing, terwyl Ravi Shastri reeds vroeër in toernooi gepleit het dat hy sy terugkeer tot internasionale krieket maak.

In dieselfde wedstryd het Chris Morris 4/26 geneem, terwyl Kagiso Rabada die reeks se voorste paaltjievraat is en Anrich Nortjé (156,22 km/h) die vinnigste aflewering in IPL-geskiedenis  afgestuur het.

Dan is Faf du Plessis een van die mees bestendige kolwers, terwyl Quinton de Kock ook onlangs begin vlam vat het.

Maar vir elke De Villiers, Nortjé en Du Plessis; is daar ook ’n Miller, Ngidi en Tahir.

David Miller en Lungi Ngidi – wat verwoestende spelers in witbalkrieket kan wees – het nog bitter min speelkans vir hul spanne gekry, terwyl Imran Tahir nog nie eens sy verskyning vir die Chennai Super Kings gemaak het nie.

Selfs die legendariese Dale Steyn het die wind van voor gekry: Hy het nog net in twee wedstryde vir RCB gespeel waarin hy kwaai gesukkel het.

  • Vuurwarm Proteas:

AB de Villiers (Royal Challengers Bangalore): 285 lopies teen ’n gemiddeld van 57. Slaan sy lopies teen ’n treftempo van 190.

Faf du Plessis (Chennai Super Kings): 365 lopies teen ’n gemiddeld van 52,14. Slaan sy lopies teen ’n treftempo van 142,75.

Quinton de Kock (Mumbai Indians): 268 lopies teen ’n gemiddeld van 38,42. Slaan sy lopies teen ’n treftempo van 151,97.

Kagiso Rabada (Delhi Capitals): 19 paaltjies teen ’n gemiddeld van 14,42

Anrich Nortjé (Delhi Capitals): 12 paaltjies teen ’n gemiddeld van 23,25.

Chris Morris (Royal Challengers Bangalore): Nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 9,33 en 25 lopies teen ’n treftempo van 312.

  • Vergete Proteas:

David Miller (Rajasthan Royals): Een wedstryd waar hy vir ’n nulletjie uitgehardloop is.

Lungi Ngidi (Chennai Super Kings): Nog net twee wedstryde gespeel waarin hy vier paaltjies teen ’n gemiddeld van 23,50 geneem het.

Imran Tahir (Chennai Super Kings): Nog nie ’n enkele wedstryd vir sy span gespeel nie.

Dale Steyn (Royal Challengers Bangalore): Een paaltjie in twee wedstryde teen ’n gemiddeld van 90.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

As ek die spelers kan raad gee, bly in Indië en speel jou krieket daar. Hier in SA is krieket byna tot niet met die politiek wat nou ook betrek word,glo ek julle plekke en salarisse is in gedrang.
Die “White Monopoly Capital” gaan hulle geld begin terug hou vir sport in SA, en waar gaan julle geld dan vandaan kom?
Heng, gaan speel tot selfs as dit moet vir Zimbabwe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.