Is dit regtig toetskrieket?

Morné Morkel – kans om na sy besering sy ritme te kry (Facebook Morné Morkel)

Dit is wel ʼn toets, maar sal dit werklik toetskrieket oplewer?

Of is dit eintlik maar net ʼn oefenwedstryd?

Daar is verskeie redes waarom krieket se heel eerste vierdaagse pienkbaltoets van Dinsdag af in Port Elizabeth tussen Suid-Afrika en Zimbabwe nie veel byt gaan hê nie.

♦  Die een is dat Suid-Afrika, nommer twee op die wêreldranglys, teen die tiende beste span speel. Zimbabwe lyk nie opgewasse nie en het die afgelope week se opwarmwedstryd met vyf paaltjies teen ʼn saamgeflanste uitnodigingspan van Krieket Suid-Afrika verloor.

♦  Die ander rede is dat Suid-Afrika, as jy tussen die lyne lees, nie hulle beste span vir die toets gaan kies nie. Die nuwe afrigter van die Proteas, Otis Gibson, het laat deurskemer dat Dale Steyn nie sal speel nie. Steyn word “gespaar” om te verseker hy is reg vir die drie Indiese toetse in Januarie wat op die vyfde van dié maand sal begin.

Gibson is glo tevrede dat Steyn van sy skouerbesering herstel het, en dat hy slaggereed is – al het hy net 12 beurte geboul sonder om ʼn paaltjie te neem. Hy het weliswaar nie voluit geboul nie, maar sy lengte en beheer was verlede week in die opwarmwedstryd teen die Zimbabwiërs onberispelik. Dit was sy eerste meerdaagse krieket in heelwat meer as ʼn jaar.

♦  Faf du Plessis se rug- en skouerbesering het hom nog in die week gepla, maar soos SA Rugby het die krieketbase en spanbestuur ook geen verdere nuus oor hom bekend gemaak nie. Dit is moontlik dat ook Du Plessis van Dinsdag af sal uitsit om te verseker hy is reg vir die Indiese toetse.

♦  Dan is daar nog AB de Villiers. Die styfheid in sy rug is klaarblyklik nie ernstig nie, en hy speel al ʼn stuk of agt, nege jaar daarmee, sê hy. Daar sal egter op sy werkslading gelet met word. Ook is daar dié vraag: het De Villiers heeltemal van sy skouerprobleme herstel? Teen Bangladesj het hy weer ʼn keer of wat na sy regterskouer gegryp na ʼn duikslag of ʼn ingooi.

Hy sal beslis teen Zimbabwe speel. Hy het die afgelope jaar nie in ʼn enkele meerdaagse wedstryd gespeel nie.

♦  Is dit regtig ʼn toets? Die wedstryd word oor vier dae, met 98 beurte per dag, as ʼn dag-aan wedstryd beslis. Dus: net  396 beurte word in die toets geboul, pleks van die 450 beurte in ʼn tradisionele vyfdaagse toets.

Dit behoort egter genoeg te wees. Zimbabwe het gesukkel en met vyf paaltjies teen ʼn uitnodigingspan van Krieket Suid-Afrika verloor. Die span het boonop net vier franchise-spelers ingesluit.

♦  Wie vir die toets gekies gaan word, is ook ʼn kwessie. Sal daar op ses kolwers en vyf boulers besluit sal word, wat dit ʼn langerige kolfstert sal maak? Teen die swakkerige buurland behoort dit egter nie te lol nie.

Ritme vir boulers soos Vernon Philander en Morné Morkel – en dalk Steyn– is belangrik met hulle terugkeer na beserings.

Maar Gibson mag gedwing word om weens die kwota-vereiste sewe kolwers en vier boulers te kies. Dit sal Steyn die ruskans gee waarop Gibson gesinspeel het en Temba Bavuma plek in die span laat kry.

Proteas se groep –

Faf du Plessis (Titans, kaptein), Hashim Amla (Cape Cobras), Temba Bavuma (Cape Cobras), Quinton de Kock (Titans), Theunis de Bruyn (Knights), AB de Villiers (Titans), Dean Elgar (Titans), Keshav Maharaj (Dolphins), Aiden Markram (Titans), Morné Morkel (Titans), Duanne Olivier (Knights), Andile Phehlukwayo (Dolphins), Vernon Philander (Cape Cobras), Kagiso Rabada (Highveld Lions), Dale Steyn (Titans).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.