Is Harmer tans die beste draaier?

Simon Harmer vier ’n paaltjie in Proteas-kleure. (AP Photo/Rafiq Maqbool)

Simon Harmer, die Suid-Afrikaanse draaier wat graafskapkrieket vir Essex speel, het wéér ’n spul kolwers in ’n wedstryd dronk gedraai.

Die 31-jarige Pretoria-boorling het in vorige onderhoude gesê dat hy die “beste wegbreek-bouler ter wêreld is”.  Hoewel dié stelling dalk ’n paar wenkbroue gelig het, kan niemand oor sy spelpeil stry nie.

In ’n vorige kragmeting het Harmer 14 paaltjies vir die derde keer in sy loopbaan geneem toe hy vir Surrey laat les opsê het.

Die afgelope week het hy 5/54 in Sussex se tweede beurt geneem om toe te sien dat Essex die wedstryd met drie paaltjies wen.

In die drie wedstryde wat hy tot dusver in die Bob Willis Trophy-reeks gespeel het, het hy ’n verstommende 28 paaltjies teen ’n gemiddeld van 13.50 geneem.

Hy neem ’n paaltjie in elke vyfde boulbeurt wat hy boul en sy beste wedstrydontleding is daardie 14/131 teen Surrey.

Die Suid-Afrikaner het in sy kort internasionale loopbaan 20 paaltjies vir die Proteas teen ’n gemiddeld van 29 geneem, maar in die afgelope vier seisoene het hy krieketliefhebbers laat regop sit met sy spogvertonings.

Simon Harmer. Foto: Twitter.

Hoewel hy ’n Kolpak-kontrak met Essex onderteken het, kan Brexit sy kanse om toetskrieket vir Engeland te speel in die wiele ry.

“Met die Kolpak-regulasies wat verander sal die Kolpak-etiket heeltemal teen die einde van die jaar wegval wanneer Engeland die Europese Unie vaarwel toeroep,” het Harmer gesê.

Die krieketwebblad Cricinfo het hom gepols of hy weer na Suid-Afrika sal terugkeer om sy internasionale drome na te jaag.

“Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Daar gebeur baie dinge in Suid-Afrika en ek is onseker oor wat die gevoel van mense daar is.”

Hy is ook onlangs deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack as een van die beste krieketspelers van die jaar vereer, nadat hy verlede seisoen 83 paaltjies vir Essex laat tuimel het.

Om ’n lang storie kort te maak: Die Proteas sal ongetwyfeld by Harmer se boulwerk kan baat. Die vraag is net of hy en die administrateurs dieselfde oor die saak voel?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.