Nou weet ons nog nie of ʼn vierdaagse kriekettoets wat met ʼn pienk bal gespeel word die antwoord is om toeskouers te lok nie.
Dit het die Proteas in Port Elizabeth heelwat minder as twee van die vier speeldae (en –nagte) geneem om Zimbabwe met ʼn beurt en 120 lopies kaf te draf in hierdie bemarkingsfoefie wat baie leemtes het en nooit werklik toetskrieket kan wees nie.
Net 907 balle (151.1 boulbeurte) is in die wedstryd geboul. In ʼn tradisionele vyfdagtoets is daar 450 boulbeurte (minus die tyd tussen kolfbeurte).
Dit was terloops die eerste keer sedert 2005 dat ʼn span binne twee dae in ʼn toets geklop is. Zimbabwe was toe ook die verloor span.
Die wedstryd het nietemin goeie oefening onder speeltoestande aan die Proteas se kolwers en boulers gebied, die meeste spelers se toetsgemiddeldes ʼn lekker hupstoot gegee, en ʼn onwelkome dyspierbesering vir Quinton de Kock op die vooraand van die toetsreeks teen Indië tot gevolg gehad.
De Kock was Woensdag glad nie op die veld nie en daar kan maar net gehoop word dat die dyspier een van dié is wat betyds sal herstel sodat hy teen aanstaande Vrydag teen Indië kan speel.
♦ Zimbabwe, wat Woensdag met hul telling op 30/4 kom voortkolf het nadat hulle Dinsdag die Proteas tot 309/.9 verklaar beperk het, het in die eerste beurt net 68 lopies aangeteken. Morné Morkel het die sewende keer in sy loopbaan vyf paaltjies in ʼn kolfbeurt laat kantel (5/21) en is goed deur Kagiso Rabada (2/12) en Andile Phehlukwayo (2/12) bygestaan terwyl Vernon Philander tien beurte afgestuur het en net 12 lopies vir sy enkele paaltjie afgestaan het.
Net die nuweling Ryan Burl (16) en Kyle Jarvis (23) het vir Zimbabwe dubbelsyfers behaal.
♦ In die tweede beurt het die buurland se kolwers heelwat beter weggespring en was die telling in ʼn stadium 54 sonder verlies. Morkel en Philander is suinig gebruik en Keshav Maharaj was hierdie keer die man wat vyf paaltjies geneem het nadat hy in die eerste beurt glad nie geboul het nie.
Hy het 5/59 in 17.3 beurte behaal, met Phehlukwayo (3/13) en Rabada en Philander wat met een paaltjie elk ook ‘n ietsie vir hul gemiddeldes gedoen het.
Chamu Chibhabha (15), Hamilton Masakadza (13), Craig Ervine (23), Brendan Taylor (16) en Blessing Muzarabani (10) het darem dubbelsyfers behaal.
Vir volledige tellings en statistiek, klik op http://www.espncricinfo.com/series/18067/scorecard/1122310