‘Ja, ek dink ons kan wen’

Engeland se James Anderson. (Foto: Marty Melville/AFP.)

Volgens Jimmy Anderson het Engeland ʼn uitstekende kans om die Reeks om die As teen Australië te beklink.

Die eerste toets word oor minder as ʼn maand op Edgbaston beslis.

“As ʼn mens na ons span kyk – veral wanneer ons na die beste van ons vermoë en teen dieselfde hoë ingesteldheid speel – glo ek nie dat daar ʼn span is wat by ons kan kers vashou nie,” het die ervare snelbouler gesê.

Hoewel die 40-jarige Anderson tans met ʼn liesbesering sukkel, geniet hy deesdae weer sy krieket. Hy het die hoop uitgespreek dat Engeland nie sy benadering vir die toetsreeks teen Australië sal verander nie.

Onder Ben Stokes en Brendon McCullum se toesig het die Engelse amper eiehandig die benadering tot toetskrieket verander: Vergeet van vervelige wedstryde wat onbeslis eindig; nou word daar gespeel om toeskouers te vermaak.

“Ek hoop dat ons op dieselfde manier sal speel, want dit is vir my briljant om deel daarvan te wees,” het Anderson bygevoeg.

“As speler is ek opgewonde oor ons benadering; dit gaan eintlik oor soveel meer as net die uitslag van ʼn wedstryd. Dit gaan vir ons daaroor om mense te vermaak en die wedstryde te geniet.”

Maroela Media het vroeër berig dat Engeland se krieketbase selfs planne beraam om die grense van die krieketvelde korter te maak. Alles in ʼn poging om hul aggressiewe kolwers ʼn hupstoot te gee.

Tog het Australië se Nathan Lyon erken dat die Aussies nie sommer daarvoor sal skrik nie.

“Engeland moet net onthou dat die grense net so kort vir ons kolwers sal wees; dit is nie asof hulle dit verder weg kan stoot wanneer dit ons beurt is om te kolf nie. Ek dink iemand soos Travis Head is taamlik opgewonde oor die vooruitsig van ʼn grenstou wat net 59 m weg is,” het Lyon gesê.

Die Aussie-draaier meen dat die Engelsmanne sal probeer om sesse van sy boulwerk te slaan, maak nie saak hoe groot of hoe klein die grense is nie.

“Ek het daarvoor beplan en is opgewonde oor die uitdaging. As bouler wil ek immers myself teen die beste spelers meet en Engeland se nuwe benadering sorg beslis vir hope vermaak. Ek is al vir amper 300 sesse in my loopbaan geslaan en dit skrik my glad nie af nie; dit gee my eintlik ʼn goeie geleentheid om ʼn paaltjie te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.