Jadeja nog g’n Kallis

Suid-Afrika se Jacques Kallis. Foto: Anesh Debiky/AFP

Die krieketwêreld gons oor Ravindra Jadeja se spogvertoning met kolf en bal in die afgelope toets teen Sri Lanka.

Die Indiese draaier het nege paaltjies in die wedstryd geneem, terwyl ’n onoorwonne beurt van 175 lopies baie vir sy selfvertroue met die wilgerlat beteken het.

Volgens die jongste Internasionale Krieketraad-ranglys is Jadeja nou die voorste veelsydige krieketspeler ter wêreld.

’n Kolfgemiddeld van 36,46 en ’n boulgemiddeld van net meer as 24 sorg vir indrukwekkende leesstof, maar kan hy werklik met legendariese oudspelers soos Garfield Sobers, Ian Botham of Jacques Kallis vergelyk word?

Boonop is dit ook duidelik dat hy dit geniet om op die grondpad-kolfblaaie van Indië te speel: In die 35 toetse wat hy in sy geboorteland gespeel het, het hy 1 431 lopies teen ’n gemiddeld van 43,36 geslaan, terwyl hy 171 paaltjies teen ’n gemiddeld van 20,41 geneem het.

Weg van die huis is sy boulgemiddeld 33,69, terwyl hy 30 lopies per kolfbeurt in Australië, Suid-Afrika of Engeland slaan.

Daarteenoor het Kallis – statisties gesproke Suid-Afrika se beste speler nóg – ’n kolfgemiddeld van 53,80 weg van die huis gehandhaaf, terwyl sy boulgemiddeld net ’n bietjie swakker in ander lande was.

Toe die Koningprotea sy Slazenger-krieketkolf vir oulaas op die internasionale verhoog weggepak het, het hy meer as 10 000 lopies in toets- én eendagwedstryde vir Suid-Afrika geslaan, terwyl hy meer as 200 paaltjies in albei weergawes van die spel geneem het. Hy is ook 23 keer as die speler van die wedstryd in toetse aangewys: ’n wêreldrekord.

Kallis bly dus statisties gesproke steeds die beter speler.

  • Só vergelyk die spelers se loopbaanstatistieke met mekaar:

Jacques Kallis:

Tuis: 88 wedstryde, 165 paaltjies teen ’n gemiddeld van 30,61; 7 035 lopies teen ’n gemiddeld van 56,73.

Weg: 74 wedstryde, 126 paaltjies teen ’n gemiddeld van 34,24; 5 919 lopies teen ’n gemiddeld van 53,80.

Ravindra Jadeja:

Tuis: 35 wedstryde, 171 paaltjies teen ’n gemiddeld van 20,41; 1 431 lopies teen ’n gemiddeld van 43,36.

Weg: 22 wedstryde, 69 paaltjies teen ’n gemiddeld van 33,56; 908 lopies teen ’n gemiddeld van 30,26.

Wêreld se voorste veelsydige spelers (volgens die IKR-ranglys):

  1. Ravindra Jadeja: 406 punte
  2. Jason Holder: 382 punte
  3. Ravichandran Ashwin: 347 punte
  4. Shakib al-Hasan: 324 punte
  5. Ben Stokes: 287 punte
  6. Mitchell Starc: 284 punte
  7. Kyle Jamieson: 274 punte
  8. Colin de Grandhomme: 245 punte
  9. Pat Cummins: 243 punte
  10. Chris Woakes: 232 punte

Wêreld se beste veelsydige spelers nóg (volgens die IKR-ranglys):

  1. Gary Sobers: 669 punte
  2. Ian Botham: 645 punte
  3. Jacques Kallis: 615 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.