Janneman en Steyn die beste

Dale Steyn. Foto: Cricinfo.

Op sy beste was Dale Steyn ’n vreesaanjaende gesig: Are wat lyk asof dit enige oomblik uit sy vel gaan bars, kettingsaag-feesvieringe wanneer hy ’n paaltjie neem en swaaiende aflewerings teen 148 km/h. Tog het beserings en ouderdom sy tol geëis en die “Phalaborwa-sneltrein” het vroeër vanjaar sy uittrede uit toetskrieket aangekondig.

Maar die 36-jarige is besig om die horlosie in die Mzansi Superliga terug te draai en hy is met sy 15 paaltjies die voorste paaltjienemer in die reeks.

Janneman Malan. Foto: Twitter.

Hoewel die spoed effens minder as in 2008 is, kan hy steeds die spoednaald na 144 km/h opstoot om die eersterangse kolwers te laat bontstaan. Hy het selfs vir AB de Villiers in Cape Town Blitz se wedstryd teen die Tshwane Spartans uitgehaal.

Steyn is nie meer beskikbaar vir toetswedstryde nie, maar hy kan nog in witbalkrieket vir die Proteas gekies word.

Op die kolffront is die 23-jarige Janneman Malan die voorste lopiemaker.

Die Kaapse kolwer het ’n onoorwonne 99 in die openingswedstryd teen die Jozi Stars aangeteken en in agt wedstryde slaan hy sy lopies teen ’n treftempo van 150,50.

  • Die voorste kolwers:
  1. Janneman Malan: 299 lopies teen ’n gemiddeld van 42,57.
  2. Ben Dunk (Australiër): 278 lopies teen ’n gemiddeld van 55,60.
  3. Reeza Hendricks: 275 lopies teen ’n gemiddeld van 39,28.
  4. AB de Villiers (voormalige Protea): 247 lopies teen ’n gemiddeld van 49,40.
  5. Temba Bavuma: 232 lopies teen ’n gemiddeld van 38,66.
  6. James Vince (Engelsman): 217 lopies teen ’n gemiddeld van 43,44.
  7. Jon-Jon Smuts: 212 lopies teen ’n gemiddeld van 35,33.
  8. Cameron Delport: 207 lopies teen ’n gemiddeld van 25,87.
  9. Liam Livingstone (Engelsman): 198 lopies teen ’n gemiddeld van 24,75.
  10. Quinton de Kock: 195 lopies teen ’n gemiddeld van 24,37.
  • Die voorste boulers:
  1. Dale Steyn: 15 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,13.
  2. Imran Tahir (voormalige Protea): 12 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,00.
  3. Tabraiz Shamsi: 12 paaltjies teen ’n gemiddeld van 18,00.
  4. Junior Dala: 12 paaltjies teen ’n gemiddeld van 23,53.
  5. Morné Morkel (voormalige Protea): 10 paaltjies teen ’n gemiddeld van 11,80.
  6. Lungi Ngidi: nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 18,22.
  7. Chris Morris: nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 23,44.
  8. Sisanda Magala: nege paaltjies teen ’n gemiddeld van 26,66.
  9. Bevin Fortuin: agt paaltjies teen ’n gemiddeld van 24,50.
  10. Kagiso Rabada: agt paaltjies teen ’n gemiddeld van 27,25.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Maar die vraag is sal CSA vir van hierdie manne ‘n kans gee in die SA T20 span?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.