Johnson kap na Warne oor Starc-kommentaar

Shane Warne. Foto: Twitter.

Mitchell Starc het die perfekte grondslag vir Australië se spogsege van nege paaltjies in die openingstoets van die Reeks om die As gelê toe hy Rory Burns met die eerste aflewering van die wedstryd skoongeboul het.

Maar terwyl die meeste patriotiese Aussie-kommentators op en af van vreugde in die kommentatorshokkie gespring het, was Shane Warne nie baie beïndruk nie.

“Dit was ’n vol aflewering op Burns se beenskutte. Ja, dit is ’n uitstekende begin vir die toets vir Mitchell Starc en Australië, maar as openingskolwer behoort jy eintlik só ’n aflewering na die grens te jaag. Die bal het dan glad nie eens geswaai nie,” het Warne op regstreekse televisie gesê.

Die legendariese bybreekbouler, wat 708 paaltjies op die internasionale toetsverhoog laat spat het, bevraagteken reeds vir ’n geruime tyd Starc se plek in die Australiese elftal.

Nou het Mitchell Johnson vir Starc in die bresse getree.

“Ek voel sy [Warne se] kommentaar het ietwat van ’n demper op alles geplaas. Veral hoe hy daarop gesinspeel het dat die kolwer net doodeenvoudig ’n reguit aflewering misgeslaan het, terwyl die bal eintlik laat geswaai het om hom om sy bene skoon te boul,” het Johnson gesê.

Mitchell Johnson. Foto: Twitter

Johnson – nes Starc ’n linkshandige snelbouler – was in 2013 die hoofrede vir die Aussies se sukses toe hy met sy vaart en aggressie die Engelse kolwers weggeblaas het.

“Ek dink ’n mens moet soms net hierdie oomblikke in ’n toetswedstryd geniet. Ek het dit beslis geniet, want ek is mal daaroor om Starcy in aksie te sien.”

Tog het David Lloyd, Engeland se voormalige hoofafrigter, met Warne saamgestem.

“Dit is moeilik om nie met hom saam te stem nie; ’n Australiese veldwerker moes daardie bal by die grens gaan haal het. Shane het terselfdertyd gesê dat dit ook een van die swakste openingsaflewerings van ’n toets was en ek voel dieselfde daaroor,” het Lloyd in ’n rubriek geskryf.

Die tweede toets begin Donderdag in Adelaide.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.