Jong blits met blink toekoms

Gideon Peters. Foto: Verskaf.

Wanneer ’n mens met Gideon Peters gesels, kan jy sommer dadelik agterkom dat hy krieket om die regte rede speel.

Die 22-jarige snelbouler bieg dat die senuwees steeds knaag wanneer hy gereedmaak om sy eerste aflewering vir Hoërskool Waterkloof in ’n Old Boys-wedstryd af te stuur; selfs al het hy amper 100 wedstryde vir dié skool se eerste span gespeel.

Maar senuwees, soos wat enige sportster wat sy of haar sout werd is vir jou sal sê, is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Dit beteken dat adrenalien deur jou are bruis en dat jy jou beste wil lewer.

En benewens daardie Old Boys-wedstryde was Peters ook al op sy beste vir Suid-Afrika se o.19-span, terwyl hy ook deesdae sy stempel vir Grens (Nyathi) in Krieket Suid-Afrika se meerdaagse reeks afdruk.

Hy spog juis met ’n wedstryd-boulontleding van 4/69 in 33 boulbeurte (“die lyf was maar seer die volgende dag”) in die Oos-Kapenaars se jongste wedstryd teen Limpopo.

Foto: Verskaf.

“Ek het vroeër in my loopbaan semi-professionele krieket gespeel, maar die standaard is nou ongetwyfeld hoër – kolwers sal beslis ’n swak bal na die grens jaag,” het Peters gesê.

Nie dat hy dinge altyd té maklik vir hulle maak nie.

Volgens Cricinfo het hy reeds 31 paaltjies in 11 wedstryde geneem, terwyl hy ’n kolwer (statisties gesproke) met elke 40ste aflewering terug na die kleedkamer stuur.

Dan is hy ook vinnig. Om teen 145 km/h te boul is nie kinderspeletjies nie. En soos wat daar al tot vervelens toe gesê is: Daar is inderdaad geen plaasvervanger vir spoed nie.

“Ek probeer altyd om so aggressief moontlik te bly en ek werk hard daaraan om konstant teen 140 km/h te boul.”

Peters se vaardighede word beslis raakgesien en hy is deur die WP Blitz vir die komende Mzansi Superliga nadergetrek. Daar sal hy skouers met spelers soos Kyle Verreynne, Tony de Zorzi en Wayne Parnell skuur.

David Bedingham, wat ’n magdom lopies vir Durham in die Engelse graafskapreeks geslaan het, is ook weer deesdae in die Kaap.

Sal hy eendag deel van die Indiese Premierliga-aksie wil wees?

“Natuurlik, maar ek glo daarin om eerder korttermyndoelwitte te stel. Ek wil graag ’n goeie Mzansi-toernooi saam met die Blitz hê, terwyl dit ook baie lekker sal wees as Grens binnekort in die A-afdeling van die plaaslike vierdagreeks speel.”

Foto: Verskaf.

Maar tussendeur al die paaltjies, streep- en opslagballe het hy ook al ’n paar lekker stories om te vertel. Soos die keer toe Aiden Markram hom in ’n vertoonwedstryd op SuperSportpark vir ’n reuse-ses tot by die nette agter die grasbank geslaan het.

“Dit was verskriklik!” vertel hy laggend.

Gideon Peters sal egter nog vir ’n hele paar jaar kolwers laat bontstaan. En wat is die rede waarvan daar in die openingsparagraaf gepraat word?

Om krieket doodeenvoudig net te geniet. Dit is immers waaroor dit gaan.

Peters se statistieke (volgens Cricinfo):

  • Meerdaagse krieket: 31 paaltjies in 11 wedstryde teen ’n gemiddeld van 24,70. Sy beste boulsyfers is 4/37, terwyl sy treftempo 39,9 is.
  • Eendagkrieket: 17 paaltjies in 13 wedstryde teen ’n gemiddeld van 27,52. Hy staan 5,25 lopies per boulbeurt af.
  • T20-krieket: Nege paaltjies in sewe wedstryde teen ’n gemiddeld van 19,00. Hy staan 7,43 lopies per boulbeurt af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henkb ·

Interessant dat hy nie plek kry in die Titans span nie oor kwotas, en dan plek kry in ‘n span wat basies net uit kwotaspelers bestaan.

Insoman ·

Nee ou maat. Wag maar vir aanbod uit die buiteland, dis al waar jou talente verder ontgin sal word en as jy lankj genoeg daar bly, speel jy dalk internasionale krieket. Ongeluk nie by die rasbehepte CSA nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.