Jonty is mal oor AB, máár …

AB de Villiers in aksie vir die Spartans. Foto: GB Jordaan.

Dit is ’n bedompige aand in Indië en die Royal Challengers Bangalore speel teen die Kings XI Punjab in ’n IPL-wedstryd. RCB se AB de Villiers bied slag en wag vir Mohammed Shami om in te storm.

Die bal gly effens uit Shami se hand en hy stuur ’n volaflewering teen 140 km/h reguit op De Villiers af.

Die voormalige Protea-superster het egter sy oë toegeknyp, vir die bal gekoes (natuurlik), sy een hand van die kolf se handvatsel afgehaal en die bal terstond vir ’n reuseses geslaan.

En dít, dames en here, is wat van AB de Villiers ’n ongelooflike speler in T20-krieket maak.

Die 36-jarige het in 2018 sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig en is sedertdien een van die vele wêreldwye T20-ligas se groot sterre.

Ná die rampspoedige terugkeer-fiasko van verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland, is die nuwe Protea-bestuur steeds gretig om De Villiers deel van hul planne vir die komende T20-wêreldbeker in Australië te maak.

Mark Boucher (nasionale afrigter) het gesê dat De Villiers en Chris Morris hulle bereidwillig moet verklaar vir die internasionale skouspel ná vanjaar se IPL. Of die duo egter dan gekies sal word, is ’n ope vraag.

AB de Villiers het verlede jaar ’n reuseses met net een hand vir die Royal Challengers Bangalore geslaan. Foto: Cricinfo.

Een van Suid-Afrika se legendes, die vlieënde puntveldwerker Jonty Rhodes, is egter gretig dat De Villiers weer deel van die nasionale opset word, maar erken dat daar nog ’n paar taai besluite op die keurders wag.

“Jy wil hê dat jou beste span moet speel, maar dit is dan ook effens onregverdig jeens die ou wat uiteindelik vir AB moet plek maak. Ons almal weet dat hy ’n ongelooflike speler is, maar gaan jy dan ’n presedent skep deur ’n ou soos AB te kies as hy nie vir Suid-Afrika speel nie?” het Rhodes aan ESPN Cricinfo gesê.

De Villiers het, ondanks die feit dat hy sy eerste aflewering in die reeks vir ’n grenshou getimmer het, maar ’n stillerige Big Bash League in Australië gehad. Tog is Rhodes een van sy grootste ondersteuners.

“Ek dink baie mense gaan kyk hoe hy in die IPL presteer, maar hy het net soveel klas. Ek is ’n groot ondersteuner van AB de Villiers.”

Kyle Verreynne. Foto: ANA.

Die vertonings van Heinrich Klaasen, Janneman Malan en Kyle Verreynne in die afgelope reeks teen Australië het gewys dat die “nuwe” Proteas oor genoeg diepte beskik om sonder De Villiers klaar te kom.

Die drie is jonk, talentvol en kan die grens na hartelus vind. Boonop het Verreynne ’n paar uitstekende vangskote in die veld benut.

“As jy die T20-wêreldbeker wil wen, moet jy alles in jou vermoë doen om jou doelwit te bereik. Jy verbreek geen reëls om AB te kies nie, jy skep net ’n presedent en jy gaan beslis ’n paar spelers omkrap wat nie deel van die aksie sal wees nie. Maar ’n span mét AB de Villiers of ’n span sónder AB de Villiers – wel, ek is mal daaroor as hy speel.”

  • Die oomblik toe Jonty Rhodes ’n krieketsuperster geword het. Foto: Facebook.

    Dit was Maandag die 28ste herdenking van Rhodes se vlieënde uithardloopkans teen Pakistan in die 1992-wêreldbeker in Australië.

Die Suid-Afrikaner het destyds soos Superman deur die lug gevlieg om Inzamam-ul Haq uit te hardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Moedeloos

My opinie is net dat wereldbeker wedstryde anders is as n gewone toernooie teen spanne soos Aussies en Engelse. Hier moet karakter gewys word en Kyle en Janneman is nog nie op daardie vlak nie. Die druk kan hul kelder waar AB miskien die druk meer kan verwerk. Maar AB is ook net mens en as die dag nie sy dag is nie kan hy ook gou uit wees.

Namib

Dis die maklikste besluit OOIT. Drop vir Faf, hy is hopeloos verby!!