Jonty word Swede se hoofafrigter

Die oomblik toe Jonty Rhodes ’n krieketsuperster geword het. Foto: Facebook.

Nóg ’n ervare krieketspeler is vir Suid-Afrika verlore. Die man wat deur duisende krieketliefhebbers van reg oor die wêreld as die beste veldwerker ooit bestempel word, Jonty Rhodes, is as Swede se hoofafrigter aangestel.

Volgens die Sweedse krieketraad is krieket die sportsoort wat die tweede vinnigste in gewildheid in die land groei: Oor die afgelope twee jaar het die sport se gewildheid met 300% toegeneem.

Rhodes se aanstelling sal beslis tot die sport se gewildheid in Swede bydra. Hy het waarskynlik Suid-Afrika se eerste krieketsuperster geword toe hy vir Inzamam-ul-Haq van Pakistan op skouspelagtige wyse gedurende die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 1992 uitgehardloop het.

As afrigter was hy by die Proteas en verskeie Indiese Premierliga-spanne betrokke. Meer onlangs was hy Nepal se krieketmentor.

Argieffoto.

“Ek is ongelooflik opgewonde om saam met my gesin na Swede te verhuis en saam met die Sweedse krieketgemeenskap te werk. Dit is ’n geleentheid wat op die regte tyd op my pad gekom het en ek kan nie wag om te begin nie,” het hy gesê.

Rhodes het uiteindelik 52 toetse en 245 eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel en dit was veral sy veldwerk op punt wat hom kop en skouers bó ander veldwerkers in sy era laat uitstaan het.

“Ek was absoluut mal oor veldwerk. Die feit dat ek ’n paar ander sportsoorte op skool gespeel het [hy was ook ’n kranige hokkiespeler], het my ook baie gehelp. Ek het baie van die vaardighede wat ek in hokkie, sokker en tennis geleer het, op die veld toegepas,” het hy in ’n destydse onderhoud met Maroela Media gesê.

In ander nuus is Neil McKenzie as Suid-Afrika se hoëprestasie-kolfbreier aangewys nadat hy tot onlangs deel van die Bangladesj-opset was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

‘n Man wat op ‘n muntstuk in SA vereer was, maar KSA kan nie vir hom ‘n pos aanbied nie???
Koebaai SA en nog baie talent word verloor!
Jonty, geniet jou nuwe loopbaan. ‘n Profeet word nie in sy eie land erken nie. Ek sien uit daarna hoe Swede vir SA in ‘n wêreldbeker gaan klop!

Die Wolf ·

Neem sommer n hele klomp belowende spelers saam. Die klomp knie buigers uitgesluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.