Jos maak (amper) soos AB

Jos Buttler. Foto: Twitter.

Toe Jos Buttler vroeër die week sy paaltjie vir 26 lopies teen Australië in Adelaide verloor het, het hy amper met ’n soortgelyke walgooipoging as AB de Villiers vorendag gekom.

’n Mens gebruik die woord ”amper” want De Villiers (33 van 220) kon darem destyds saam met Faf du Plessis (110 van 376 balle) ’n onbesliste uitslag op die einste Adelaide Oval teen die Aussies afdwing.

Daarteenoor het die Engelse met 275 lopies in die stof gebyt.

Tog verdien Buttler lof vir sy veggees.

Die 31-jarige paaltjiewagter is een van die gevaarlikste witbalkrieketspelers ter wêreld, maar hy sukkel om sy stempel in die toetsarena af te dwing.

Hy het in 55 toetse slegs 2 888 lopies teen ’n gemiddeld van net meer as 32 geslaan, terwyl hy ook ’n bietjie té wisselvallig agter die paaltjies vertoon.

Maar met Engeland wat in hul tweede beurt op 86/5 gesteier het, het Buttler vir 258 minute en teen 207 aflewerings walgegooi.

Ab de Villiers het destyds saam met Faf du Plessis ’n onbesliste uitslag teen Australië afgedwing. Foto: Peter Heeger/ANA

Hy het met verstommende selfbeheersing gekolf – veral as ’n mens in ag neem dat hy in die onlangse T20-Wêreldbeker sy lopies teen ’n treftempo van meer as 150 aangeteken het.

In sy jongste rooibalkrieketbeurt het hy sy lopies teen ’n treftempo van 12.56 geslaan; die derde stadigste onder kolwers wat meer as 200 aflewerings trotseer het.

Volgens Wisden Cricketers’ Almanack het net Engeland se Jack Russell (29 van 235 balle teen Suid-Afrika) en die Proteas se Hashim Amla (25 van 244 balle teen Indië) stadiger as hy gekolf.

Tog het Australië steeds die wedstryd op ’n drafstap gewen; daar was meer as 20 boulbeurte in die dag se spel oor.

Die derde As-toets begin op 26 Desember in Melbourne.

  • Buttler het ná De Villiers se uittrede getwiet dat die Suid-Afrikaner een van sy gunstelingspelers is.

“Wat ’n speler! Ek het net die TV aangesit om AB te sien kolf,” het die Engelse paaltjiewagter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.