Joy sorg vir Protea-frustrasie

Mahmudul Hasan Joy vier sy toetshonderdtal. Foto: Marco Longari/AFP.

Die Proteas geniet ’n voorsprong van 75 lopies toe swak lig en reën ’n einde aan die dag se spel in Durban gemaak het.

Nadat Bangladesj gister op 98/4 gewankel het, het Mahmudul Hasan Joy gewys dat die besoekers bereid is om vuur met vuur te beveg.

Die openingskolwer het die eerste Bangladesj-speler geword om ’n toetshonderdtal teen Suid-Afrika aan te teken.

Hy het vandag met meer aggressie gekolf en nie geskroom om vir Simon Harmer (4/103) in die begin van sy boulskof aan te vat nie.

Hy was uiteindelik laaste uit: Hy was vir 442 minute voor die paaltjies en sy skitterbeurt van 137 het 15 viere en twee sesse ingesluit.

Kingsmead is lank nie meer die snelboulerparadys van ouds nie en Suid-Afrika se draaiers het die meeste van die boulwerk gedoen.

Harmer en Keshav Maharaj het gesamentlik 77 boulbeurte afgestuur en Dean Elgar moes na die slaankrag van ’n Kagiso Rabada of ’n Marco Jansen verlang het.

Duanne Olivier het gesukkel om werklik aan die gang te kom, terwyl Wiaan Mulder bitter min boulkans gekry het.

Lizaad Williams (3/54) kan egter tevrede met sy vertoning voel – hy was die vinnigste Protea-bouler en veral die aflewering wat van Litton Das ontslae geraak het, was iets om op trots te wees.

Dit het die verswakte Protea-boulaanval egter hopeloos te lank geneem om die uitklophou te plant.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 367 in 121 boulbeurte: Temba Bavuma 93, Dean Elgar 67 en Khaled Ahmed 4/92.

Bangladesj 298 in 115,5 boulbeurte: Mahmudul Hasan Joy 137, Simon Harmer 4/103 en Lizaad Williams 3/54.

Proteas 6/0 in 4 boulbeurte: Dean Elgar 3*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.