Kallis: Eerste toets as tydelike Engeland-konsultant begin vandag

Jacques Kallis vier ’n honderdtal teen Engeland op die Oval in 2012. AFP PHOTO/Ian Kington.

Die Protea-legende Jacques Kallis se eerste toets as Engeland se kolfwerk-konsultant het vandag in Galle begin. En hoewel Joe Root se span eerste veldwerk doen – hulle het sommer vroeg reeds van drie Sri Lanka-kolwers ontslae geraak – het die Engelsmanne al vantevore hul waardering vir Kallis uitgespreek.

Die rooikopkolwer Jonny Bairstow het gesê dat Kallis die “beste veelsydige speler ooit is”, terwyl Dan Lawrence opgewonde was om saam met “die wêreld se beste” te werk.

Die 45-jarige Kapenaar was in ’n soortgelyke hoedanigheid deel van die Protea-opset toe die Engelsmanne laat in 2019 na Suid-Afrika getoer het.

Sy diens is egter sedertdien nie weer deur die Proteas benodig nie en in die huidige administratiewe warboel waarin Krieket Suid-Afrika (KSA) hom bevind, is die tydelike Engeland-pos waarskynlik ’n slim skuif.

Kallis het voor die aanvang van die Galle-toets gesê dat dit hartseer is dat hy nie sy ervaring kan gebruik om Suid-Afrikaanse kolwers van hulp te wees nie, maar dat hy sy tyd saam met Engeland baie geniet.

Volgens The Guardian het KSA se beplande regstellendeaksiebeleid – waar slegs swart konsultante aangestel moet word – ook ’n invloed op Kallis se korttermynbesluit gehad.

“Ek is nie toegelaat om betrokke te wees nie, aangesien KSA gesê het daar mag nie meer wit konsultante saam met die span werk nie,” is Kallis aangehaal.

“Ek dink dit is hoe dinge in Suid-Afrika gaan. Baie spelers het al weggeval omdat daar ’n behoefte aan meer swart spelers is. Dit is taai, maar ons verstaan waar dit vandaan kom.”

Hoewel KSA se beleid vir eers van die tafel is en ’n hele paar plaaslike spelers daarin belanggestel het om saam met Kallis te werk, kon hy hulle nie bystaan nie.

“Dit is hartseer dat ek nie in Suid-Afrika kan uithelp nie, maar ek geniet my tyd hier saam met Engeland.”

Kallis bring ’n magdom ervaring en kennis na enige krieketpartytjie en in sy speeldae het hy eintlik die rol van drie spelers vir die Proteas vertolk.

Hy was die rots waarop die Suid-Afrikaners hul kolfbeurt gebou het, as bouler het hy gereeld belangrike paaltjies geneem, terwyl hy ’n paar bobaas-vangskote in die glippe benut het.

Hy het meer as 10 000 lopies in toets- én eendagwedstryde vir die Proteas geslaan, terwyl hy meer as 200 paaltjies in albei weergawes van die spel geneem het. Hy is ook 23 keer as die speler van die wedstryd in toetse aangewys – ’n wêreldrekord.

Die Internasionale Krieketraad het hom vroeër vanjaar in sy heldesaal opgeneem – ’n gepaste beloning vir waarskynlik die beste Suid-Afrikaanse speler tot op hede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alexander ·

Engeland waardeer ten minste Kallis se kennis en ervaring. Suid-Afrika net behep met velkleur.Meriete tel glad nie.

Christo ·

Ek kyk nie eers meer SA krieket nie. Dit is n klugspul wat net ten doel het om spelers van kleur se sakke vol geld te stop. Die spel is n bysaak.

Die Wolf ·

Al se Boucher wat op TV, hy weet wat die rede is. Nie lank nie dan is hy ook MIA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.