Kallis het ook dié rekord agter sy naam

Jacques Kallis. Foto: Twitter.

Statisties gesproke het Suid-Afrika se Jacques Kallis waarskynlik die beste toetsrekord in krieketgeskiedenis.

In 166 toetse vir Suid-Afrika tussen 1995 en 2013 het hy 13 289 lopies geslaan en 292 paaltjies geneem. Terselfdertyd het hy ook 200 vangskote – hoofsaaklik in die glippe – benut.

Soos wat Engeland se Moeen Ali onlangs in ’n onderhoud met The Guardian gesê het: Kallis is ’n beter speler as sy veglustige Engelse spanmaat Ben Stokes, bloot omdat hy statisties soveel meer gedoen het.

Die voormalige Protea het egter nóg ’n indrukwekkende rekord agter sy naam: Hy is die speler wat die meeste man van die wedstryd-toekennings ontvang het.

Kallis is 23 keer in sy roemryke loopbaan as die beste speler in ’n betrokke toetswedstryd benoem, sodoende skop hy weer eens stof in Stokes se oë wat agt keer in sy 63 toetse benoem is.

Die Protea-ster kry dus ’n benoeming in elke sewende toets (7,2 om presies te wees), terwyl dié eer vir Stokes in elke agste toets (7,8) te beurt val.

  • Die spelers wat die meeste toekennings in toetswedstryde ontvang het:
  1. Jacques Kallis: 23 in 166 toetse
  2. Muttiah Muralitharan (Sri Lanka): 19 in 133 toetse
  3. Wasim Akram (Pakistan): 17 in 104 toetse
  4. Shane Warne (Australië): 17 in 145 toetse
  5. Kumar Sangakarra (Sri Lanka): 16 in 134 toetse
  6. Ricky Ponting (Australië): 16 in 168 toetse
  7. Curtly Ambrose (Wes-Indië): 14 in 98 toetse
  8. Steve Waugh (Australië): 14 in 168 toetse
  9. Sachin Tendulkar (Indië): 14 in 200 toetse
  10. Mahela Jayawardene (Sri Lanka) 14 in 149 toetse

Ander Suid-Afrikaners:

Shaun Pollock (11), Dale Steyn (9), Vernon Philander (8), Allan Donald (8), Gary Kirsten (8), Darryl Cullinan (6), Herschelle Gibbs (6), Makhaya Ntini (6), Hashim Amla (6), Kagiso Rabada (5), AB de Villiers (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.