Kallis steeds op voorvoet

Jacques Kallis. (Foto: Anesh Debiky/AFP.)

Jacques Kallis het in Desember 2010 sy eerste dubbele honderdtal in ʼn toets geslaan. Indië was aan die ontvangkant van die Suid-Afrikaanse kolfmaestro se flitsende kolf en hy het gereeld met sy voorvoetdryfhoue beïndruk.

Druk nou die versnelknoppie na November 2023 en Kallis, nou 48 jaar oud, plaas steeds boulers onder druk met sy goeie houespel.

Die Protea-legende, wat deur baie krieketliefhebbers as Suid-Afrika se beste speler nóg bestempel word, speel deesdae vir die Gujarat Giants in die Legendes-toernooi in Indië.

Hy het 56 lopies van 42 aflewerings teen die Manipal Tigers gemoker en hoewel die Giants die wedstryd verloor het, het hy gewys dat hy steeds oor meer kolftalent as veel jonger spelers beskik.

Kallis het agt grenshoue in sy beurt geslaan en veral sy dryfhoue was uit die boonste rakke.

Die Giants speel Sondag in hul volgende wedstryd teen die Urbanisers Hyderabad in Dehradun.

Tydens sy internasionale speeldae het Kallis basies die rol van drie spelers vir die Proteas vertolk.

Hy was die rots waarop die Suid-Afrikaners hul kolfbeurt gebou het, as bouler het hy gereeld belangrike paaltjies geneem, terwyl hy ʼn paar bobaas-vangskote in die glippe benut het.

Hy het meer as 10 000 lopies in toets- en eendagwedstryde vir die Proteas geslaan, terwyl hy meer as 200 paaltjies in albei weergawes van die spel geneem het. Hy is ook 23 keer as die speler van die wedstryd in toetse aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kiepie ·

Vorm is tydelik maar klas is vir ewig! El gedaan Jacques Kallis.
Maar ek moet sê, Vader Tyd het ‘n grote effek gehad op die veldwerk “efforts” as op Kallis se kolfwerk. ;-)

Frank ·

Tog het hy nie meer daardie ABSOLUTE stylvolle houe wat hy destyds gehad het nie. Maar sy oog is nog goed en hy kry die hout op die leer!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.