Kallis word deur IKR vereer

Jacques Kallis. Foto: Twitter.

In sy speeldae het Jacques Kallis basies die rol van drie spelers vir die Proteas vertolk.

Hy was die rots waarop die Suid-Afrikaners hul kolfbeurt gebou het, as bouler het hy gereeld belangrike paaltjies geneem, terwyl hy ’n paar bobaas-vangskote in die glippe benut het.

Hy het meer as 10 000 lopies in toets- én eendagwedstryde vir die Proteas geslaan, terwyl hy meer as 200 paaltjies in albei weergawes van die spel geneem het. Hy is ook 23 keer as die speler van die wedstryd in toetse aangewys; ’n wêreldrekord.

Nou het die Internasionale Krieketraad hom in sy heldesaal opgeneem.  ’n Gepaste beloning vir waarskynlik die beste Suid-Afrikaanse speler tot op hede.

Hoewel Kallis al kritiek oor sy kolfwerk moes verduur het – hy het óf te stadig gekolf, óf hy het sy eie belange bo dié van die span gestel – was hy nooit ’n selfsugtige speler nie.

Sy bestendigheid en vermoë om ’n ankerrol te speel het gesorg dat spelers soos Herschelle Gibbs, Hashim Amla of AB de Villiers met groter vryheid kon kolf.

Wanneer hy nie die span uit een of ander netelige posisie moes red nie, het hy met die flair en vryheid van ’n koninklike gekolf.

Wie kan sy dryfhoue van die voor- én agtervoet vergeet? Of dan sy rekords vir die vinnigste vyftigtal in toetskrieket, of die meeste lopies in ’n enkele toetsboulbeurt?

Sy boulwerk het soos wat die jare aanstap begin skipbreuk ly, maar selfs toe kon hy belangrike paaltjies neem – vra maar vir Ricky Ponting in 2012.

Deesdae word daar baie vergelykings tussen hom en Engeland se Ben Stokes getref.

Ja, Stokes gaan waarskynlik vir Andrew Flintoff en sir Ian Botham as Engeland se voorste veelsydige speler verbysteek; maar daar is net een Jacques Henry Kallis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Nie net die beste speler ooit in SA nie, maar die beste all rounder wat wereld krieket ooit gesien het.
Koning Kallis, gedog Wian Mulder ons volgende all rounder maar lyk my hy Kom nie die mas op nie.
Hoop hy bewys my verkeerd

Jaco ·

Is sy ras “reg” om so ‘n verering te regverdig? Ek vra maar net. Daars deesdae soveel drama rondom BLM en raskwotas en transformasie in sport. Wit sportlui moet maar eerder uit sport bly, selfs al is hulle van Olimpiese kampioen standaard. Dis beter as die vernedering om later weens die “verkeerde” ras uitgeskuif te word saam met allerhande onwaar beskuldigings van rassisme.

MJ ·

My hero – die beste speler ooit – dis verseker!
En hy het geen aapstreke op die veld gehad nie.
Werklik ‘n gentleman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.