Kampioenetoernooi begin; SA oorgehaal vir eerste wedstryd

Die Proteas begin hulle aanslag op die IRK se Kampioenetrofee Saterdag wanneer hulle in die eerste wedstryd van Groep B teen Sri Lanka kragte meet.

Suid-Afrika is in ʼn moeilike en onvoorspelbare groep saam met Sri Lanka, Indië en Pakistan.  Groep A, bestaande uit Engeland Australië, Nieu-Seeland en Bangladesj begin reeds op Donderdag speel wanneer Engeland teen Bangladesj op die Oval kragte meet. Vrydag speel Australië teen Nieu-Seeland op Birmingham en Sondag kom Indië teen Pakistan te staan om die eerste ronde van die groepwedstryde te voltooi.

Die verdere bepalings vir die Proteas se groepwedstryde is teen Pakistan op Edgbaston op 7 Junie; en op 11 Junie speel hulle teen Indië op die Kensington-ovaal in Londen.

Vanaf 14 Junie vind die twee halfeindrondes plaas en op 18 Junie is dit die eindstryd op die Kensington-ovaal.

Daar word verwag dat Australië, Suid-Afrika, Indië en Engeland die halfeindwedstryde sal haal, maar die ander vier spanne, veral Nieu-Seeland, is heeltemal in staat om te verras.

Nadat Engeland in die groepfase van die 2015-Wêreldbeker uitgeval het, is daar baie hard gewerk om hulle eendagkrieket op ʼn hoër peil te bring deur veral minder konserwatief te kolf. Hulle onlangse vertonings wys dat hulle die vrugte pluk al het hulle mees onlangse wedstryd Maandag teen Suid-Afrika in ʼn vernederende nederlaag geëindig.

♦  Suid-Afrika se verhaal wat  dié eendagtoernooi betref, is ʼn treurmare. In 1998 het hulle die eerste Kampioenetrofee gewen. (Toe nog die Uitkloptrofee genoem.)

Dit was nog hulle enigste sukses by ʼn groot IKR-toernooi. In die volgende twee toernooie het Indië met hulle in die halfeindstryde klaargespeel. Die Proteas het in 2006 en 2013 ook net die halfeindstryd gehaal en in 2004 en 2009 het hulle in die groepfase vasgeval.

Nietemin is daar alle rede om te hoop dat Suid-Afrika dié keer beter sal vaar – en selfs die gesogte trofee sal kan lig.

Oor die afgelope 18 maande het kaptein AB de Villiers sy loopbaan in oënskou geneem en die 2019-Wêreldbekertoernooi as sy mikpunt gestel. Om hierdie toernooi te wen kan baie van daardie spoke wat die span in 2015 in die laaste pylvak gepootjie het, nog verder verjaag.

Met hierdie 2019-doelstelling voor oë het die Proteas reeds uitstekend gevaar en op onlangse wedstrydvorm sedert die Aussie-kragmetings alleen behoort hulle ʼn goeie kans te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.