Kan die Proteas vir Nieu-Seeland troef?

Die Proteas sal ’n beter vertoning van Kagiso Rabada teen Nieu-Seeland verwag. Foto: Cricinfo.

Die blaasorkes het Saterdag hul instrumente afgestof en uit volle bors begin speel toe Faf du Plessis se manne Afganistan met nege paaltjies in Cardiff gewen het.

Waar ’n Protea-sege teen ’n Afganistan of ’n Bangladesj voorheen as vanselfsprekend aanvaar is, was die Protea-kaptein ’n “verligte man” toe Andile Phehlukwayo en Hashim Amla die wenlopies geslaan het.

Die Proteas is tans besig met Operasie Regruk nadat hulle drie agtereenvolgende Wêreldbeker-wedstryde (teen Engeland, Bangladesj en Indië) verloor het, en hul kragmeting teen die Windies uitgereën het.

Die span was futloos, Dale-Steyn-en-AB-de-Villiers-loos en, om eerlik te wees, taamlik hopeloos op die veld. Maar die Afganistan-sege het ʼn mens amper weer rede gegee om effens te begin glo; al het Hashim Amla na ’n onoorwonne 48 gekruip en die 40-jarige Imran Tahir die boulaanval so te sê op sy eie gedra.

Gelukkig behoort Lungi Ngidi weer môre sy hertoetrede tot die span op Edgbaston te maak: Die jong snelbouler het sy dyspier vroeër teen Bangladesj beseer en was sedertdien op die krukkelys.

Nieu-Seeland is tans onoorwonne in die toernooi, maar Ngidi voel hulle kan onder druk geplaas word indien die Proteas vroeg in hul beurt ’n paaltjie of twee kan laat kantel.

“Ek dink nie hul middelorde kolwers is al genoeg in die toernooi getoets nie,” het Ngidi gesê.

“Die meeste van hul ouens wat lopies geslaan het, kolf in hul top-orde. Dalk as ons een of twee kolwers vroeg in hul beurt uitknikker en hul middelorde so gou as moontlik in die middel kry, dan kan jy dalk ’n perd van ’n ander kleur verwag.”

Op die boulfront het Tahir, Chris Morris en Andile Phehlukwayo almal al ’n paar goeie vertonings gelewer, maar daar is kommer oor Kagiso Rabada se spelpeil.

Die 24-jarige sneltrein het nog net vyf paaltjies in vanjaar se toernooi teen ’n gemiddeld van 39 geneem, maar hy het al in die verlede die Kiwi’s laat bontstaan en Du Plessis sal hoop dat Rabada weer met sy ou vuur en ritme op Edgbaston sal boul.

Birmingham was juis vir jare die hoofjagveld van Suid-Afrika se Allan Donald, toe hy nog graafskapkrieket vir Warwickshire gespeel het.

Dan sal Amla se vertoning met die kolf weer eens onder die vergrootglas wees. Die 36-jarige openingskolwer het weliswaar ’n onoorwonne 48 teen Afganistan geslaan, maar sy lopies het teen ’n oupa-tempo van 49 gekom.

Du Plessis het gesê dat Amla se tyd in die middel “goud” vir die span werd is en dat hulle later die vrugte hiervan sal pluk.

Die tyd is egter ryp vir die Proteas om groot bydraes met die kolf te maak. Nog net Quinton de Kock, Du Plessis en Rassie van der Dussen (wat nou een van die span se steunpilare is) het al vyftigtalle in die toernooi geslaan.

Om dié treurmare in perspektief te plaas: Rabada het die hoogste gemiddeld van al die kolwers in vanjaar se toernooi.

Maar dinge kan môre selfs beter vir die Proteas begin lyk. As hulle wen, natuurlik.

  • Die wedstryd begin môre om 11:30 op Edgbaston.

Hoe die Protea-span kan lyk: Hashim Amla, Quinton de Kock, Aiden Markram, Faf du Plessis (kaptein), Rassie van der Dussen, David Miller, Andile Phehlukwayo, Chris Morris, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Imran Tahir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

cb ·

Nee……daar is nie n manier nie. Hulle sal baie geluk aan hulle kant moet he. Ek dink daai ouens se sefvertroue is geknak. Ek hulle word swak afgerig.

George in Bloem. ·

Ons kan ons maar regmaak vir ‘n choke van epidermiese proporsies……

Waarheid ·

Nee Daar is nie n manier nie.
Beste wat kan gebeur is dat dit reen indien hulle wil vorder .

khat ·

ai shame hulle kan nie eers teen hulle self wen nie en jy moet nonthou dit het gereen teen afganistan en hulle word nie erken as n eerste rangse krieket spelers nie zimpapwe ou mogabe se span is honderd keer beter as afganistan

Neels ·

Verstaan nie die span keuses nie . Chris Morris was eers glad nie in die groep nie , maar hy speel ten koste van Pretorius wat van die begin af daar was . Hoe verklaar mens dit .

Vraagteken ·

Sê wat jy will, Morris boul deesdae baie goed. Daar is tans slegter keuses as Morris.

Nico ·

Om te verstaan hoe swak SA is vergelyk sy vertoning teen Afg met die van Eng teen Afg.

JohanL ·

Nico, om te verstaan is darem om alles in ag te neem asb.

– SA/Afg speel op ander veld (Sophia Gardens) as Eng/Afg (Old Trafford).
– SA kolf tweede en Engeland het eerste gekolf
– SA boul Afg uit in 34 beurte, Engeland kon Afg nie eers in 50 beurte uitboul nie.
– SA behaal wenlopies in 29ste beurt (131 lopies) en Engeland kolf volle 50 beurte (want hulle kolf eerste) en kry amper 400 lopies !!

In beide gevalle het arme Afg maar sleg verloor. So ek weet nie hoe jy by jou vergelyking uitgekom het nie.

My voorspelling? Natuurlik hoop ek ons kan die ding doen en natuurlik het ons ‘n kans, al is dit tans “teen odds”. NS bly nog altyd “onder die radar” op hul manier in CWC toernooie en die jaar is geen uitsondering nie. Aan kolfkant gaan Quinton, Faf en Rassie se beurte belangrik wees en aan boulkant gaan Ngidi se terugkeur en hoe hy boul belangrik wees (gaan hy “hou” of weer beseer word).

SA is tans NIE op vorm nie en speel baie soos Pakistan – meer sleg as goed, maar kan op die dag enige span wen.

Poot ·

@JohanL
Wel gestel Johan. Maak nie saak wat nie…. dit bly ons span en ons hoop hulle wen.

Joe Hall ·

Laat asb weet waar jy daai slim slaai in die hande gekry het.

alwyn burger ·

“As die Black Caps opstap om teen die Proteas te speel het hulle al klaar verloor” (Shane Warne). Daar was so ñ tyd. Maar ek is bevrees daardie tyd is verby. Maar in krieket weet mens nooit. Kyk hoe het Pakistan Engeland afgestof!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.