Kan Markram sy pad na die Proteas terugvind?

Aiden Markram. Foto: Facebook.

Net voor die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland begin het, was daar ’n heftige debat rakende die talentvolle Aiden Markram.

Moes hy vir die span gekies word, of nie?

Op die ou einde het sy 552 lopies in vyf plaaslike eendagwedstryde die skaal in sy rigting geswaai en hy is saam met die span na Engeland vir ’n rampspoedige toernooi waarin hulle net drie van hul nege wedstryde kon wen.

Markram het self nie ’n té wafferse toernooi geniet nie en hy kon slegs 140 lopies teen ’n eina-gemiddeld van 23,33 slaan.

Natuurlik is dit nie sy skuld dat die flou Proteas destyds vroeg uit die toernooi geboender is nie. Maar nes verlede jaar is daar weer eens ’n bietjie polemiek wat rondom die 25-jarige Titans-speler woed.

Markram is sedert die Centurion-toets teen Engeland nie meer deel van die Protea-opset nie omdat hy sy vinger in dié wedstryd gebreek het.

Vóór dit was hy ook vir ’n geruime tyd langs die grenstou gewees nadat hy sy gewrig in Indië gebreek het. Die openingskolwer was pas vir sy tweede agtereenvolgende nulletjie (weliswaar verkeerdelik) uitgegee, maar uit frustrasie het hy ’n harde voorwerp geslaan en ’n skandering het getoon dat hy ’n fraktuur in sy gewrig opgedoen het.

Janneman Malan op die aanval. Foto: Twitter via IKR.

Sy onbeskikbaarheid het die weg vir die Malan-broers, Pieter en Janneman, gebaan om hul stempel in Protea-kleure af te druk.

Pieter het die kolfwerk saam met Dean Elgar in die toetsarena begin, terwyl Janneman in die eendagreeks teen Australië sy talent uitgestal het.

Albei verdien nog ’n hele paar kanse om hul voete op die internasionale verhoog te vind. Tog was Janneman se skitterende honderdtal in die tweede eendagwedstryd teen Australië waarskynlik genoeg om Markram uit die eendagspan te hou.

As openingskolwer altans.

Tog glo kenners soos dr. Ali Bacher dat Markram die aangewese persoon is om die toetskaptein-leisels by Faf du Plessis oor te neem.

“Aiden is ’n natuurlike leier en hoewel hy ’n baie moeilike tyd in Indië gehad het, tel ouderdom in sy guns. Gee vir hom ’n paar jaar om te wys van watter stoffasie hy gemaak is,” het Bacher destyds gesê.

Markram vaar tans goed vir die Titans in die Momentum-eendagbeker. In vyf wedstryde het hy reeds 275 lopies teen ’n gemiddeld van 55,00 geslaan.

Maar ’n toetsgemiddeld van 38 en ’n internasionale eendagkrieketgemiddeld van 27 dui dalk op ’n talentvolle speler wat nog nie heeltemal volgens sy volle potensiaal speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.