Kan Proteas Kohli se glimlag laat verdwyn?

Virat Kohli. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

Geen ondersteuner van eendagkrieket sou twee weke gelede gedink het dat die Proteas hul kleinste telling nóg met die kolf in Suid-Afrika teen Indië gaan aanteken nie.

Daarmee saam kan Indië moontlik  skoonskip maak teen die wêreld se nommer-een-eendagspan, Suid-Afrika. Virat Kohli se lekkerkry-glimlag word net groter, want hy het byna op sy eie die Proteas se gesigte in hulle eie agterplaas in die modder kom vryf.

Die Proteas vlieg van Kaapstad na Johannesburg met die hoop dat die vorige pienkdrag-sukses van AB de Villiers in 2015, op die Wanderers, herhaal kan word. De Villiers het die wêreldrekords laat spat met 149 lopies van net 44 balle. Mens dink ook aan daardie massiewe 438 lopies, in vyftig boulbeurte, wat die Proteas teen Australië in 2006 in die sogenaamde “bullring” gemoker het.

Helaas, die hoogtepunte voel byna onwerklik as ons na die kolfprestasies van die laaste drie wedstryde kyk. Gesels jy boonop met krieketondersteuners, draai hulle die kop weg en fokus op ander geselsies. Dit lyk net asof ons spelers se fokus ontbreek en asof hulle hul net oorgee om gekasty te word deur veral die draaibalaanval van die Indiërs.

Hoe dit ook al sy, hoop beskaam nie. Die Proteas steier onder ʼn lang lys van beseerde spelers. Kan AB en Morné (indien hulle terug is) dalk vir die nodige vuurwerke sorg en ʼn ommekeer bewerkstellig wat die glimlag van Virat se gesig sal laat verdwyn?

Alle kaartjies vir die vierde eendag-kragmeting op die Wanderers is uitverkoop en spel is geskeduleer om Saterdag om 13:00 te begin. Indien die Proteas dié wedstryd verloor, is die reeks neusie verby vir Suid-Afrika en Virat stewig op pad na ʼn ses-nul-glimlag.

Kry hier meer inligting oor die wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Callie ·

Daar was nog altyd bitter min SA spelers wat draaiers kon speel. Nou is daar lyk vir my niemand meer nie.

MANIE ·

Ongelukkig lyk al die sport in de land soos die proteas. Ek le al die skuld voor die regering met sy kwotas en inmeng by sport. Verder het die huidige regering geen kultuur van prestasie. Gelukkig hou ek my geldjies styf in die beursie want vir sulke gemors wat opgedis word betaal ek nie sent

MANIE ·

Eks baie bly eks nie een van die wat n kaartjie gekoop het. Geen mens wat n land se sport ondersteun sal n sent betaal vir hierdie gemors wat opgedis word

Erick ·

Jammer om te se maar al is AB daar gaan ons nog ‘n loesing kry. Koli bly maar die beste kolwer in die wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.