Kapenaar in Engeland se WB-groep

Tom Curran vier saam met Jonny Bairstow ’n paaltjie. Foto: Cricinfo.

Die wêreld se opwindendste eendagkrieketspan, Engeland, het ’n Suid-Afrikaanse wapen in hul kolf- en boularsenaal vir die komende Wêreldbeker.

En nes Kevin Pietersen, Jonathan Trott en Allan Lamb voor hom, sal hy van sy beste krieketjare vir Engeland gee.

Die 24-jarige Tom Curran is in Eoin Morgan se groep van 15 spelers ingesluit wat later vandeesmaand hul aanslag op die Wêreldbeker in hul tuisland begin.

Curran is in Kaapstad gebore en het by die vooraanstaande Hilton College in Durban skool gegaan. In 2012 is hy deur die voormalige kaptein van Surrey, Ian Greig, tydens ’n skoolwedstryd raakgesien en is terstond genooi om vir dié graafskap se tweede span te speel, sowel as om sy skoolloopbaan by Wellington School te voltooi.

Hy het so te sê onmiddellik sy stempel in Engeland afgedruk en 5/21 in sy tweede wedstryd vir Surrey teen Kent geneem.

Sy pa – die gewese Zimbabwiese krieketster Kevin Curran – is ’n maand ná sy Britse buiging oorlede en die jong Curran het besluit om sy loopbaan in Engeland voort te sit.

Vandag het dié veelsydige speler reeds 17 wedstryde vir Engeland gespeel. Hy handhaaf ’n kolfgemiddeld van 44.50 en het reeds 27 paaltjies teen ’n gemiddeld van minder as 30 lopies per paaltjie geneem.

Hy was ook een van Engeland se uitblinkers in die afgelope reeks teen Pakistan. Morgan se troepe het dié reeks 4-0 beklink.

  • Suid-Afrika speel op 30 Mei teen Engeland in die openingswedstryd van die 2019‑Krieketwêreldbeker.

 

  • Engeland se Wêreldbekergroep: Eoin Morgan (kaptein), Moeen Ali, Jofra Archer, Jonny Bairstow, Jos Buttler, Tom Curran, Liam Dawson, Liam Plunkett, Adil Rashid, Joe Root, Jason Roy, Ben Stokes, James Vince, Chris Woakes, Mark Wood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Sjoe! Hilton is darem vêr van Durban af! – Pietermaritzburg!!

Chris van Rensburg ·

Kevin Curren was mos ‘n S. A tennisspeler wat in die Wimbledon finaal gespeel het? Nie geweet sy naamgenoot het vir Zimbabwe krieket gespeel nie. Baie talent.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.