Kapp se ster skitter nog helder in Indië

Marizanne Kapp vier een van haar paaltjies. (Foto: X/WPL)

Marizanne Kapp het nog ʼn uithalervertoning by die Indiese Premierliga vir vrouekrieketspelers gelewer.

Die 34-jarige Suid-Afrikaner, wat vir die Delhi Capitals in die mik-en-mokertoernooi speel, het twee belangrike paaltjies in haar span se wedstryd teen die Gujarat Giants geneem.

Kapp het vir Laura Wolvaardt en Beth Mooney terug na die kleedkamer gestuur en sy het oudergewoonte met haar akkurate boulwerk uitgeblink.

Die Giants is tot 126/9 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk, waarna die Capitals die wenlopies in die 14de boulbeurt – en met net drie paaltjies plat – gemoker het.

Shafali Verma is vir haar 71 lopies as die speler van die wedstryd aangewys, maar die toekenning kon net sowel na Kapp gegaan het.

Sy spog tans met die meeste paaltjies (11) in die reeks en sy knikker met elke 13de aflewering ʼn teenstander uit, terwyl kolwers ʼn gemiddeld van slegs 6,50 lopies per boulbeurt van haar kan slaan.

Nóg ʼn Suid-Afrikaner, die vurige Shabnim Ismail, is agtste op dié lys.

Die 35-jarige snelbouler het reeds agt paaltjies teen ʼn gemiddeld van net meer as 17 in die toernooi laat kantel.

Sy het ʼn paar dae gelede die vinnigste vrouesnelbouler in die geskiedenis van die spel geword toe sy die spoednaald in die rooi met haar aflewering van 132,1 km/h gedruk het.

  • Opsomming van die telkaart:

Gujarat Giants 126/9 in 20 boulbeurte: Bharti Fulmali 42, Minnu Mani 2/9 en Marizanne Kapp 2/17.

Delhi Capitals 129/3 in 13,1 boulbeurte: Shafali Verma 71, Jemimah Rodrigues 38* en Tanuja Kanwar 2/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.