Kaptein Elgar stuur Protea-skip na veiliger hawe

Dean Elgar. Foto: Randy Brooks/AFP.

Wanneer ’n krieketpuris sou besluit om sy eie afrigtershandleiding vir jong skoolkinders uit te reik – sommer met foto’s ingesluit om die beste kolftegniek te demonstreer – sal hy waarskynlik nie vir Dean Elgar nooi om kolfwerk-model te speel nie.

Want die Suid-Afrikaanse toetskaptein se dryfhou is dalk nie so vloeiend soos Jacques Kallis s’n nie, of sy haakhou het nie dieselfde flair as dié van Brian Lara nie; maar kolfwerk hoef nie altyd mooi te lyk om doeltreffend te wees nie.

Elgar was gister op ’n moeilike kolfblad in St. Lucia die gom wat die Protea-kolfbeurt bymekaar gehou het nadat die Suid-Afrikaners met hul telling op 37/3 gewankel het.

Dit was ’n tipiese Elgar-kolfbeurt; daardie kombinasie van taaiheid en durf waaraan ons nou al gewoond geraak het.

Toe hy uiteindelik in die 78ste boulbeurt van die wedstryd vir 77 deur Kyle Mayers skoongeboul is, het die Proteas darem ’n skaflike 203/5 op die telbord gehad.

Elgar is goed deur die jong Kyle Verreynne ondersteun.

Ja, die rooikop-kolwer van die Cobras het net 27 lopies aangeteken, maar hy het teen sy instink – om aanvallende houe te speel – vasgeskop, 89 aflewerings trotseer en saam met sy kaptein die Suid-Afrikaanse skip na ’n veiliger hawe gestuur.

Toe hy ná ’n vennootskap van 87 lopies met Elgar agter die paaltjies van Shannon Gabriel (2/47) se boulwerk uitgevang is, het Quinton de Kock op sy goeie spelpeil van die eerste toets voortgebou.

Die Protea-paaltjiewagter het goed gekolf en teen uitskeityd het hy 59 lopies agter sy naam gehad.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 218/5: Dean Elgar 77, Quinton de Kock 59* en Shannon Gabriel 2/47

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.