Kaptein Stokes laat ander die seile span

Engeland se Ben Stokes. (Foto: Marty Melville/AFP)

Engeland het vir Ierland met tien paaltjies in ʼn eenmalige toets op Lord’s ore aangesit.

In die proses het Ben Stokes die eerste kaptein ooit geword om ʼn toets te wen sonder om self een keer te boul, te kolf of die paaltjiewagterhandskoene te dra.

ʼn Kniebesering beteken dat die 32-jarige speler nie kon boul nie, terwyl Ollie Pope en Ben Duckett se klappende kolwe beteken het dat hy nie nodig gehad het om sy wilgerlatvaardighede op Lord’s uit te stal nie.

Hy het die Engelse krieketondersteuners verseker dat hy wel in die Reeks om die As teen Australië ʼn paar aflewerings sal afstuur.

“Ek het vanoggend geboul – die eerste keer sedert ek van die Indiese Premierliga teruggekeer het. Dit het oukei gevoel en daar is geen rede tot kommer nie,” het Stokes gesê.

Die ongenaakbare Britse joernaliste het hom egter gevra of hy dit sal oorweeg om een van die komende toetse uit te sit; dit is immers iets wat Eoin Morgan [voormalige witbalkrieketkaptein] ʼn keer of twee gedoen het.

“Nee, natuurlik nie,” was Stokes se onmiddellike antwoord.

“Dit is nie eens iets waaroor ons gepraat het nie want ek is heeltemal bereid om in die eerste toets op Edgbaston te boul.”

  • Opsomming van telkaart:

Ierland 172/10 in 56,2 boulbeurte: James McCollum 36, Curtis Campher en Stuart Broad 5/51.

Engeland 524/4 verklaar in 82,4 boulbeurte: Ollie Pope 205, Ben Duckett 182 en Andy McBirne 2/99.

Ierland 362/10 in 86,2 boulbeurte: Mark Adair 88, Andy McBrine 86* en Josh Tongue 5/66.

Engeland 12/0 in 0,4 boulbeurte: Zak Crawley 12*

Uitslag: Engeland wen met tien paaltjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Ek mis die dae sonder IPL giggel-krieket, toe toetsreekse uit 6 toetse betsaan het…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.