Keshav draai Windies deurmekaar in reekssege

Foto: Randy Brooks/AFP.

Die afgelope toets teen die Wes-Indiese Eilande het sommer ’n spul mylpale vir die Proteas ingesluit. Dit was Dean Elgar se eerste oorwinning as die land se nuwe toetskrieketkaptein, terwyl dit ook Suid-Afrika se eerste reeksoorwinning weg van die huis in jare was.

Dan het Keshav Maharaj (5/36) slegs die tweede Suid-Afrikaner – naas Geoff Griffin in 1960 – geword om ’n driekuns in ’n toetswedstryd te neem.

Die linkshandige draaier het in agtereenvolgende aflewerings van Kieran Powell, Jason Holder en Joshua da Silva ontslae geraak om die kat in die Windies se duiwehok los te laat.

Die Eilandmanne was vóór Maharaj se heldedade eintlik heel oukei gewees met hul telling op 107/3, maar dit het binne ’n oogwink 107/6 geword en die Proteas het die toets op ’n drafstap met 158 lopies gewen.

Keegan Petersen en Wiaan Mulder het met twee goeie vangskote ook tot Maharaj se jolyt bygedra. Veral Mulder se vangskoot – hy moes rats na regs duik om van Da Silva ontslae te raak – het die bouler breed laat glimlag.

Foto: Randy Brooks/AFP.

“Ek kon waarskynlik met ’n baie beter aflewering as daardie een vorendag gekom het, maar Wiaan verdien sommer baie lof vir daardie vangskoot,” het Maharaj gesê.

Mark Boucher, die Proteas se hoofafrigter, is ook in sy noppies met die sterdraaier se vertoning.

“Kesh het so hard aan sy boulstyl en -vaardighede geskaaf. Dit is oomblikke soos dié wat hy vir die res van sy loopbaan sal onthou,” het Boucher gesê.

“Hy boul deesdae van nader aan die paaltjies en is ook baie meer aanvallend. Om op die vierde dag van ’n toets vyf paaltjies te neem is enige draaier se droom. Ek weet dat hierdie vertoning ongetwyfeld sy selfvertroue ’n hupstoot sal gee.”

Eintlik verdien al Suid-Afrika se boulers ’n pluimpie vir hul vertonings in hierdie toetsreeks. Kagiso Rabada, Maharaj, Anirch Nortjé en Lungi Ngidi tel onder die voorste boulers, terwyl Mulder sy paaltjies teen ’n gemiddeld van 14 geneem het.

Kolwers mag dalk vir indrukwekkende vertonings sorg, maar dit is ’n goeie boulaanval wat ’n wedstryd vir jou wen.

En in hierdie geval sommer die hele reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Ek sien ons anderskleurige boulers het al die paaltjies geneem in die Windies se 2de beurt. Nog ‘n paar bekke toegespeel. Kwaliteit kwotas.

Kirst ·

Ja, ek wonder waar is almal wat so gal gebraak het oor die Proteas en die kwotas nou. Weliswaar is die Wes-Indies nie die mees gedugte teenstander nie, maar hulle is voor ons op die ranglys en boonop het ons weg gespeel. Hopelik kan die Proteas voortbou op die oorwinnings. Hulle het dit swaar genoeg gehad die afgelope paar jaar.

piet ·

Sal weer uit hul gate uitkruip die dag wanneer ons weer verloor. That’s how they roll.

Kobus ·

Ek is ‘n groot sportliefhebber.Wat my egter dwars in die krop steek is ons sportmanne se gedrag op die sportveld wanneer ‘n drie gedrul word,wanneer ‘n paaltjie geneem word ens.Hulle gaan soos gr 2 dogtertjies te kere.Dit is omhelsery,hopies word gemaak en elkeen wil op die presteerder spring. Liewe aarde,julle is professioneel. Indien ons ‘n transaksie beklink in ons werkplek word dit deel van ons werk beskou .Die sportmanne sit met maskers op langs die veld maar wanneer hulle op die veld gaan verander alles

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.